Soorte resepte:

Twee SA wyne op gesogte wynranglys

KWV het die beste in Suid-Afrika gevaar en het die 45ste plek ingeneem (Foto: Facebook)

Twee Suid-Afrikaanse wyne spog met ʼn plek op Drinks International  en ProWein se lys van die wêreld se 50 wynhandelsmerke wat die meeste bewondering ontlok.

KWV het die beste in Suid-Afrika gevaar toe dit die 45ste plek ingeneem het by die spogseremonie wat onlangs by die Steigenberger Parkhotel in Düsseldorf, Duitsland, plaasgevind het. Die bekende Paarlse wynlandgoed Nederburg het die 47ste plek ingeneem.

Dié gesaghebbende lys word deur meer as 200 van die bekendste en invloedrykste mense in die internasionale wynbedryf saamgestel en word deur die vooraanstaande navorsing- en konsultasiemaatskappy Wine Intelligence onderskryf.

Volgens Drinks International verg dit volgehoue of toenemende gehalte, ’n weerspieëling van die streek of land van oorsprong, ’n positiewe reaksie op die behoeftes en smake van die teikenmark, uitstekende bemarking en verpakking, en gewildheid onder ’n breë demografie om dié top-50 lys te haal.

Niël Groenewald, besturende direkteur van Nederburg, het gesê vanjaar is die vierde jaar wat Nederburg op dié lys verskyn.

“Wat ’n eer vir Nederburg om vir die vierde agtereenvolgende jaar op hierdie internasionale lys van die wêreld se topwynhandelsmerke ingesluit te word!  Ons is verheug oor die nuus en veral dankbaar vir die fokus en vernuwing van ons wingerdbou- en wynmaakspanne, nie net vir hul vernuwende denke nie, maar ook vir hul volgehoue pogings om altyd beter en beter te doen.

Nederburg het die 47ste plek ingeneem (Foto: FAcebook)

“Dis hul avontuurlustige gees en nuuskierigheid wat die dryfveer is agter hul volgehoue pogings om te ontdek en te eksperimenteer,” het hy gesê.

Liandra Kotzé, KWV se bemarkingshoof van wyn, het aan The South African gesê dit is ʼn groot eer om op dié lys te verskyn.

“Vir KWV om op die lys te verskyn, wat nog te sê om een van die wêreld se mees bewonderde wynhandelsmerke te wees, is sowaar iets merkwaardig om te bereik. Meer as enigiets weerspieël dit ons vasberade verbintenis tot ons handelsmerke en ons kliënte om seker te maak dat ons wyn lewer wat deurlopend goeie ervarings bied en wat nooit die vertroue verbreek wat ons oor meer as 100 jaar reeds begin bou het nie,” het sy aan die webtuiste gesê.

KWV kon ondanks verskeie pogings van Maroela Media nie Vrydag vir kommenaar bereik word nie.

Die wynhandelsmerke wat die top‑5 posisies beklee, is Penfolds in Australië (nr. 1), Torres in Spanje (nr. 2), Villa Maria in Nieu-Seeland (nr. 3), Concha Toro in Chili (nr. 4) en M Chapoutier in Frankryk (nr.5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

So jammer die KWV behoort nie meer aan die “Kaapse Wynboere” nie. Dit is so ‘n bekende en gesogte handelsmerk en kon tot selfs baie groter dinge gelei het tot voordeel van die wynboere, maar helaas, dit het nie so uitgewerk nie om verskeie redes. Sou graag die maatskappy wou sien voortleef as entiteit wat die boere se belange op die hart dra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.