17 op ʼn streep vir Novak

Serwië se Novak Djokovic. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Novak Djokovic is steeds op koers om die 39ste ATP-meesterstitel van sy loopbaan in te oes nadat hy vir Cameron Norrie met 6-3 en 6-4 in Rome geklop het.

Die 35-jarige Serwiër het terstond ook vir sy 17de agtereenvolgende Italiaanse Ope-kwarteindstryd gekwalifiseer.

Hy het aansienlik meer punte met sy eerste afslaan as sy Britse teenstander verdien en hy het oudergewoonte weer goed in die belangrike oomblikke van die wedstryd gespeel.

Reën het aanvanlik gedreig om spel te ontwrig en Djokovic het erken dat hy dankbaar was toe spel hervat is.

“Dinge lyk tans heel goed. Dit was ʼn vreemde aanloop tot die wedstryd omdat ons vir net 20 minute kon opwarm. Ek is egter bly dat ek die kragmeting in skoon stelle kon beklink om na die volgende wedstryd aan te beweeg,” het Djokovic gesê.

Hy sal nou teen Holger Rune of Alexei Popyrin te staan kom.

Met die Franse Ope om die draai bied die Italiaanse Ope vir baie spelers ʼn laaste geleentheid om aan hul kleibaanvaardighede te skaaf.

Djokovic is oorgehaal om soveel as moontlik Grand Slam-titels in te oes voordat sy speeldae-uurglas ook leegloop.

Indien hy met die louere in Parys sou wegstap, sal hy 23 Grand Slams agter sy naam hê – ʼn nuwe rekord vir manspelers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.