Afrikabekertoernooi: Haller skryf sy eie sprokie

Sebastien Haller (Foto: Sia KAMBOU/AFP)

Daar is baie sprokiesverhale in sport.

Daarvan kan Sebastien Haller, die held van Ivoorkus se sokkerspan, getuig nadat hy Sondagaand in die Stade Olympique Alassane Ouattara in Abidjan sy span se wendoel in die Olifante se oorwinning van 2-1 oor Nigerië in die eindstryd van die Afrikabekertoernooi aangeteken het.

Haller, wat vir Frankryk se jeugspanne gespeel het, het die Ivoorkus bo die Franse gekies en sy besluit het nou die nodige vrugte afgewerp.

Maar twee jaar gelede was sy loopbaan aan skerwe nadat hy met testikulêre kanker gediagnoseer is.

Sy loopbaan was by ʼn kruispad en hy kon so maklik handdoek ingegooi het.

Hy het nie gaan lê nie, het maande lank chemoterapie ondergaan en kon sy loopbaan hervat.

Maar toe slaan die noodlot weer toe hy in Desember 2023 sy enkel beseer het.

Hy is wel in die span ingesluit, maar het die eerste drie wedstryde misgeloop.

Hy het sy fiksheid herwin en die Ivoorkus uit die as laat opstaan nadat die Olifante twee keer geklop is, onder meer met 4-0 deur Ekwatoriaal-Guinee.

“Dit was nie maklik vir die spelers nie en daar was woorde en oomblikke vir die spelers, beamptes, almal, maar dit was nodig,” het Haller ná die span se oorwinning oor Nigerië gesê.

Die Ivoorkus is Sondagaand die derde keer as Afrikabekerkampioen gekroon.

Die Olifante het 7 miljoen Amerikaanse dollar aan prysgeld met sy eerste plek verdien.

* Bafana Bafana het as een van die vier spanne wat die halfeindronde gehaal het, $2,5 miljoen (sowat R47 miljoen) verdien.

Bafana Bafana, wat ook die bronsmedalje verower het, se doelwagter Ronwen Williams is as die beste doelwagter by die toernooi aangewys en Bafana het ook die eerlike spel-toekenning (Fair Play Award) ingepalm.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.