Al blaffend en drawwend na wêreldrekord

Odessa en Dan Wehunt is eerste oor die wenstreep. Foto: State Street Mile se FB-blad/Fritz Olenberger.

Hier is goeie raad vir die volgende keer wanneer jy met jou oorgewig worshond, Pokkeltjie, gaan stap: Net wanneer hy begin pleit dat jy hom – skaars 50 m weg van die huis – moet optel, vertel vir hom die storie van sy vinnige, viervoetige Facebook-vriendin, Odessa, om hom tot groter maerword-hoogtes te inspireer.

Die vierjarige Odessa, ’n Duitse pointer, het onlangs saam met haar eienaar, Daniel Wehunt, die wêreldrekord by die State Street Dog Mile in Kalifornië in die VSA verbeter.

Die duo het die myl (1,6 km) in ’n tyd van 4:07 minute kafgedraf; ’n hele ses sekondes vinniger as die vorige rekord van 4:13 minute wat in 2016 deur Brian Duff en Kaydom opgestel is.

Wehunt het aan Runner’s World gesê Odessa oefen dikwels saam met hom en dat hulle ongeveer 64 km (40 myl) per week draf.

Hulle handhaaf gereeld ’n spoed van 5:30 minute per myl, maar hy sal Odessa se padwedlope tot 10 km-wedlope beperk, omdat die teer haar pote seermaak.

Tog glo hy dat hulle selfs vinniger kan hardloop en die vierminute-kerf kan breek.

“Ek sal mal daaroor wees om vinniger as vier minute te hardloop,” het Wehunt aan Runner’s World gesê.

“Tydens die wedloop het iemand gesê ons was op koers om die magiese vierminute-kerf te breek, maar dit was ék wat vir Odessa oor die laaste 400 m teruggehou het. Sy het absoluut geen probleem met die pas gehad nie.”

  • Die Olimpiese atleet, Anthony Famiglietti, het met sy hond vinniger as vier minute gehardloop, maar die tyd word nie erken omdat dit nie tydens ’n amptelike wedloop opgestel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VanAfrika ·

Inspirasie wat ons by ons diere kinders kan leer. My hart swel sommer vir haar. Jy is n champ Odessa

JohanL ·

As my Rottie met my begin hardloop, gaan sy my sleep en ek gaan in hospitaal eindig :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.