Alcaraz reken met Berrettini af

Carlos Alcaraz het goed terugbaklei nadat hy die eerste stel teen Matteo Berrettini verloor het. (Foto: Twitter/Wimbledon)

Ondanks ʼn geploeter in die eerste stel het Carlos Alcaraz steeds te veel skietgoed vir Matteo Berrettini op Wimbledon gehad.

Die Spaanse tennisster het die kragmeting met 3-6, 6-3, 6-3 en 6-3 beklink om ʼn kwarteindstryd-ontmoeting met Holger Rune af te dwing.

Volgens Alcaraz het hy vooraf geweet dat Berrettini nie kanonvoer op die grasbaan sal wees nie – die Italianer was immers al vantevore in die eindstryd in aksie.

“Matteo is ʼn baie goeie speler en dit was omtrent ʼn opdraande stryd toe ek die eerste stel verloor het. Ek werk egter hard aan my ingesteldheid en konsentrasie op die baan en ek is baie dankbaar dat ek kon terugveg,” het hy gesê.

Hoewel hy nie te ver in die toekoms wil kyk nie – een wedstryd op ʼn slag is maar die beste benadering – het hy al vantevore aangedui dat hy graag met Novak Djokovic in die eindstryd sal wil rakette kruis.

“Dit is nie net tennisliefhebbers wat na die moontlike tweestryd uitsien nie, ek sien sommer self ook daarna uit.”

Alcaraz het vroeër tydens die Franse Ope in Parys sleg tweede teen die Serwiër gekom toe hy in vier stelle met 6-3, 5-7, 6-1 en 6-1 verloor het.

Djokovic speel juis vandag in een van die kwarteindstryde teen Rusland se Andrey Rublev.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Matteo Berrettini met 3-6, 6-3, 6-3 en 6-3

Holger Rune klop Grigor Dimitrov met 3-6, 7-6, 7-6 en 6-3

Christopher Eubanks klop Stefanos Tsitsipas met 3-6, 7-6, 3-6, 6-4 en 6-4

Ons Jabeur klop Petra Kvitova met 6-0 en 6-3

Aryna Sabalenka klop Ekaterina Alexandrova met 6-4 en 6-0

Madison Keys klop Mirra Andreeva met 3-6, 7-6 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.