Alcaraz speel met Sonego klaar

Lorenzo Sonego en Carlos Alcaraz. (Foto: X/Australiese Ope)

Dit het Carlos Alcaraz vier stelle teen Lorenzo Sonego geneem om vir die derde ronde van die Australiese Ope in Melbourne te kwalifiseer.

Die eindtelling was 6-4, 6-7, 6-3 en 7-6 in die jong Spanjaard se guns en hy het sommer ook sy 157ste oorwinning in ʼn ATP-wedstryd gevier.

“Ons al twee het met ʼn hoë intensiteit gespeel en met ʼn paar uitstekende houe vorendag gekom. Ek was selfs tevrede met my spel in die tweede stel,” het die wêreld se naasbeste speler gesê.

Alcaraz speel Sondag in die derde ronde teen Shang Juncheng. Die Chinees het reeds met Mackenzie McDonald en Sumit Nagal in Melbourne klaargespeel.

In een van vandag se ander wedstryde het Frankryk se Arthur Cazaux vir ʼn opskudding gesorg toe hy Holger Rune met 7-6, 6-4, 4-6 en 6-3 geklop het.

Die 20-jarige Rune is die Australiese Ope se agtste gekeurde manspeler.

“Dit was pure malligheid. My stem is nou ʼn bietjie hees, maar dit was omtrent vir jou ʼn vurige tweestryd,” het die Fransman na afloop van die kragmeting gesê.

“Holger is ʼn wonderlike speler en ek ken hom baie goed. Ek het vooraf geweet dat hy vir elke punt sal veg en ek was nou gereed vir hom.”

Cazaux het altesaam 51 wenhoue in die wedstryd gemoker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.