Alcaraz terug op wenpad in Turyn

Carlos Alcaraz het met Andrey Rublev in Turyn afgereken. (Foto: X/ATPTour)

Carlos Alcaraz het sy eerste wedstryd van die ATP-eindronde in Turyn gewen toe hy vir Andrey Rublev met 7-5 en 6-2 geklop het.

Die Spaanse tennissensasie het vroeër sy rieme styfgeloop teen Alexander Zverev in sy openingswedstryd van die toernooi.

Hy is egter nou tevrede met sy vertoning teen die Russiese speler.

“Ek sal moet aanhou om op dié vlak te speel as ek ʼn kans in die toernooi wil hê. Ek het goed op die oefenbaan in aanloop tot die wedstryd gevoel en ek dink ek het myself nou baie goed van my taak gekwyt,” het die 20-jarige speler gesê.

Indien alles volgens plan verloop, kan hy nog vir die halfeindstryd van die toernooi kwalifiseer, maar hy sal eers Vrydag verby nog ʼn Rus – dié keer Daniil Medvedev – in sy finale groepwedstryd moet kom.

Volgens Alcaraz moet hy ʼn moeilike balans handhaaf om sukses in Turyn te smaak.

“Jy moet ontspanne wees en nie toelaat dat die druk jou onderkry nie, maar terselfdertyd moet jy ook nie skroom om onverskrokke spel op die baan op te dis nie.

“Jy moet eerste jou stempel op die baan afdruk en jy moet meer aggressief as jou teenstander wees.”

In vandag se wedstryde sal Novak Djokovic – net soos Alcaraz – poog om weer op die wenpad te kom nadat hy teen Jannik Sinner verloor het.

Die wêreld se voorste speler sal rakette met Pole se Hubert Hurkacz kruis, terwyl Sinner teen Holger Rune speel.

Uitslae:

Daniil Medvedev klop Alexander Zverev met 7-6 en 6-4

Carlos Alcaraz klop Andrey Rublev met 7-5 en 6-2.

Vandag se bepalings:

Novak Djokovic teen Hubert Hurkacz

Jannik Sinner teen Holger Rune.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.