Alcaraz wen stryd van 20-jariges

Carlos Alcaraz is deur na die Wimbledon-halfeindstryd. (Foto: Twitter/Wimbledon)

ʼn Wimbledon-eindstryd tussen Carlos Alcaraz en Novak Djokovic is ʼn sterk moontlikheid nadat die Spanjaard gister met Holger Rune in een van die toernooi se kwarteindstryde afgereken het.

Alcaraz het die stryd van die jong Turke met 7-6, 6-4 en 6-4 beklink. Dit is die eerste keer in Ope-era dat twee spelers jonger as 21 jaar mekaar in ’n kwarteindstryd op Wimbledon se grasbane aanvat.

Die Madrid-boorling het terstond die jongste speler sedert Novak Djokovic se heldedade van 2007 geword om vir die halfeindstryd van die toernooi te kwalifiseer. Hy is volgende teen Daniil Medvedev in aksie.

“Dit is een van my grootste tennisdrome om goed op Wimbledon te presteer; dit is ʼn ongelooflike toernooi. Ek is tevrede met my vertonings en het nie gedink dat ek so goed sou vaar op die speeloppervlak nie,” het Alcaraz gesê.

Hy het 35 wenhoue geslaan en oudergewoonte met sy ratsheid op die baan beïndruk.

“In die tweede stel het ek dinge begin geniet en met ʼn breë glimlag gespeel – dit is immers die sleutel tot sukses.”

Die oorwinning beteken dat Alcaraz nou ses van sy laaste sewe kragmetings teen toptienteenstanders gewen het.

Sy enigste nederlaag was teen Djokovic in die halfeindstryd van die Franse Ope.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Holger Rune met 7-6, 6-4 en 6-4

Daniil Medvedev klop Christopher Eubanks met 6-4, 1-6, 4-6, 7-6 en 6-1

Ons Jabeur klop Elena Rybakina met 6-7, 6-4 en 6-1

Aryna Sabalenka klop Madison Keys met 6-2 en 6-4

Vandag se bepalings:

Elina Svitolina teen Marketa Vondrousova (halfeindstryd)

Ons Jabeur teen Aryna Sabalenka (halfeindstryd)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.