Alonso: ‘Schumacher was my taaiste teenstander’

Michael Schumacher en Fernando Alonso. (Foto: Pierre Andrieu/AFP.)

Fernando Alonso blaas deesdae vuur agter die stuur van sy Aston Martin en in die eerste drie wedrenne van die jongste F1-seisoen het hy nog elke keer op die podium gestaan.

Die 41-jarige Spanjaard is bekend vir sy onverskrokke bestuurvernuf en hy staan nie sommer vir enigiemand terug wanneer hy sy plek op die renbaan moet verdedig nie – vra net vir Lewis Hamilton in Boedapest.

Nou het hy vir Michael Schumacher as sy taaiste teenstander uitgesonder.

Alonso was in ʼn tweestryd met die legendariese Ferrari-renjaer gewikkel toe hy in 2005 en 2006 sy wêreldtitels saam met Renault gewen het.

“Toe ek destyds my voete in die sport probeer vind het, het Michael Schumacher nog die septer geswaai. Om hom die stryd aan te sê was ’n baie spesiale ervaring,” het die Spanjaard gesê.

Sy F1-loopbaan het in die vroeë 2000’s weggespring en hy het ook skouers met ander talentvolle renjaers – soos Sebastian Vettel, Jenson Button en natuurlik Hamilton – geskuur.

“Ja, hulle het my keuse bemoeilik want hulle is almal baie talentvolle renjaers. Maar daar is uiteindelik net een Michael Schumacher.”

Volgens Alonso was sy eerste wêreldtitel sy gunstelingprestasie agter die stuur van ’n F1-renmotor.

“Ek was baie emosioneel toe ek my tweede titel ingeoes het, maar daardie eerste kampioenskapsege was ’n droom wat waar geword het.”

Hy het vroeër erken dat Aston Martin se aanvanklike sukses hom nou onkant betrap het.

“Dit was die perfekte aanloop tot hierdie spanprojek. Ons het glad nie gedink ons gaan só mededingend wees nie. Die aanvanklike plan vir 2023 was om in die middel van die groep sake teen ander renjaers uit te spook en dan die een of ander tyd nader aan die topdrieplekke te beweeg.”

  • Komende wedren-bepalings:

30 April in Azerbeidjan

7 Mei in die VSA

21 Mei in Italië

28 Mein in Monaco

4 Junie in Spanje

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

Al reflekteer sy statistieke dit straks nie, ag ek steeds Alonso as in dieselfde klas as Senna en Michael Schumacher.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.