Alonso sê dit was taaier om Schumacher te klop

Fernando Alonso. (Foto: AP Photo/Manu Fernandez)

Die Spaanse renjaer Fernando Alonso het in ’n onderhoud gesê dat dit moeiliker was om vir Michael Schumacher in ’n wedren te klop, as vir Lewis Hamilton.

Dit kom op die vooraand van die Duitse Grand Prix waar die 35-jarige Brit in alle waarskynlikheid die Duitse legende se rekord vir die meeste F1-loopbaanoorwinnings (91) sal ewenaar.

“Dit is moeilik om Schumacher en Hamilton met mekaar te vergelyk. Hulle kom uit verskillende eras en hul motors is ook baie verskillend,” het Alonso gesê.

Die 39-jarige Spanjaard is een van die talentvolste renjaers in motorsportgeskiedenis. Saam met sy F1-titels het hy ook al met die louere by die Le Mans- en Indy 500-reekse weggestap. Hy het vanjaar ook 13de in sy eerste probeerslag by die moordende Dakar-uithourit geëindig.

Michael Schumacher. Argieffoto.

“Ek onthou egter dat dit ongelooflik taai was om vir Michael te klop. Hy was die renjaer met die meeste talent en het oor daardie iets ekstra beskik.

“Lewis is ook baie goed en ongetwyfeld die beste in sy era. Maar hy het nooit ’n titel gewen toe hy saam met Jenson Button deel van die McLaren-span was nie.”

Volgens Alonso was Schumacher ’n baie spesiale teenstander.

“By Mercedes het Nico Rosberg ook al met die wêreldtitel weggestap. Daarteenoor het Michael nooit sulke kompetisie gehad nie; hy het maar net altyd gewen. Volgens my was hy altyd ’n tree voor die res.”

Lewis Hamilton. (AP Photo/Rick Rycroft).

Ná Schumacher se uittrede het Alonso vir ’n paar seisoene in die rooi van Ferrari gery, maar hy het nooit ’n wêreldtitel saam met die Italiaanse span gewen nie.

“Selfs al het ek nie ’n titel saam met hulle gewen nie, was dit steeds ’n ongelooflike ervaring. Wanneer jy by Ferrari opdaag, dink jy dat jy verdere titel-glorie saam met hulle sal smaak, maar soms laat jy geleenthede deur jou vingers glip.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Schumacher sal altyd die beste bly, maak nie saak hoeveel keer Hamilton wen nie. Schumi was nooit so arrogant en vol van homself soos Hamilton nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.