Bafana gerat om bordjies teen Nigerië te verhang

Suid-Afrika speel vanaand om 19:00 teen Nigerië. (Foto: Sia Kambou/AFP)

Wanneer die geskiedenis teen jou tel, bied dit jou ʼn gulde geleentheid om die geskiedboeke te herskryf.

Bafana Bafana speel vanaand op die Stade de la Paix in die halfeindstryd van die Afrikabeker teen Nigerië; ʼn span teen wie hulle nog nooit vantevore sukses in die toernooi gesmaak het nie.

Suid-Afrika wen nie sommer – of indien ooit – vir Nigerië in dié kompetisie nie en vanaand se tweestryd bied ʼn gulde geleentheid om die bordjies te verhang.

En waar die Wes-Afrikaspan op individuele sterre kan reken om vir ʼn tikkie toorkuns op die veld te sorg, glo Bafana Bafana eerder dat ʼn hele paar swaeltjies die somer maak.

“Kyk byvoorbeeld na Nigerië se Victor Osimhen wat vir Napoli speel – hy is ʼn groot ster. Ons beskik nie noodwendig oor só ʼn speler nie, maar al die spelers sáám maak van ons ʼn goeie span,” het Hugo Broos gesê.

Osimhen is intussen ook gereed vir aksie nadat Nigerië vroeër oor sy fiksheid gesweet het.

Broos staar homself egter nie blind teen die Napoli-held se sterstatus nie; hy meen dat sy spelers met mekaar se spel vertroud is.

“Almal doen wat van hulle verwag word en soms is dit belangriker as om met ʼn paar groot name te spog.”

Daar is ’n rits Mamelodi Sundowns-spelers in die Bafana‑groep en hulle weet al amper instinktief wat die ander gaan doen.

“Ons verdediging bestaan uit vier Sundowns-spelers en hulle verstaan mekaar baie goed. Dit is nie dieselfde as jy vier spelers van verskillende klubs het nie, want dan moet jy aan hul verstandhouding werk.”

Bafana Bafana dra beslis vanaand die buiteperdetiket.

Tog beteken dit terselfdertyd dat hulle niks het om te verloor nie en dat hulle met ʼn tikkie meer vryheid teen Afrika se sokkerreuse kan speel.

“Bitter min mense het gedink dat ons tot hier sou vorder en daar is nou baie minder druk op ons. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat ons nie in die eindstryd wil speel nie.”

Die kragmeting begin vanaand om 19:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.