Bekgeveg oor Serena se ouderdom, gewig

Serena Williams. Foto: Al Bello/Getty Images/AFP

Die 39-jarige Serena Williams het al meer as 20 Grand Slam-titels agter haar naam, maar haar ouderdom en gewig is onlangs deur die skatryk Roemeense sakeman en voormalige tennisspeler Ion Tiriac gekritiseer.

“Serena is ’n wonderlike speler, maar sy moes nou al haar uittrede aangekondig het as sy die ordentlikheid gehad het,” het die 81-jarige aan ’n Roemeense televisiestasie gesê.

“Op haar ouderdom en weens haar gewig, beweeg sy beslis nie meer so maklik op die baan soos wat sy 15 jaar gelede gedoen het nie.”

Nodeloos om te sê het Tiriac se kommentaar ’n storm op sosiale media ontketen en Williams se man, Alexis Ohanian, het vir sy vrou in die bresse getree.

“Dit is 2021 en ek gaan nie stilbly wanneer ’n rassistiese en seksistiese nar my gesin aanval nie. Ek dink dit is veilig om te sê dat niemand omgee wat Ion Tiriac dink nie,” het Ohanian op Twitter geskryf.

Volgens die Amerikaanse media is dit nie die eerste keer dat Tiriac sy mond oor Williams uitspoel nie.

Die baas van die Madrid Ope het in 2018 ook haar gewig en ouderdom gekritiseer en gesê dat hy eerder weer ’n speler soos Duitsland se Steffi Graf in aksie sal wil sien.

Tiriac het in sy speeldae die dubbelspeltitel by 1970 se Franse Ope gewen en Ohanian het hom gekap oor sy gebrek aan sukses op die tennisbaan.

“Ek moes Google inspan om uit te vind dat my driejarige kind meer Grand Slam-titels as hy het.”

Intussen sal Williams saam met ander spelers soos Ashleigh Barty in opwarmingstoernooie vir die Australiese Ope in aksie wees.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.