Besering knip Carlos se tennisjaar kort

Carlos Alcaraz. Foto: Twitter.

Die raketswaaiende sensasie, Carlos Alcaraz, se tennisjaar is amptelik verby nadat hy hom noodgedwonge aan die ATP-eindtoernooi in Turyn moes onttrek.

Die jong Spanjaard se deelname aan die Parys-meesterstoernooi is ook kortgeknip toe hy die baan in die kwarteindstryd teen Holger Rune met ʼn maagspierbesering moes verlaat.

Hy het intussen op sosiale media bevestig dat die besering hom vir tot ses weke lángs die baan kan hou.

“Dit beteken dat ek ongelukkig nie in die ATP-eindtoernooi of die Davis-bekereindronde sal kan speel nie. Dit is twee baie belangrike toernooie en dit is moeilik vir my om hulle mis te loop. Al wat ek kan doen, is om op my rehabilitasiewerk te konsentreer en om positief te bly.”

Die 19-jarige speler het vroeër vanjaar die jongste wêreldnommereenspeler in die geskiedenis van die ATP geword toe hy Casper Ruud in die eindstryd van die Amerikaanse Ope met 6-4, 2-6, 7-6 en 6-3 geklop het.

Hoewel hy die twee belangrike toernooie sal misloop, is daar steeds ʼn baie goeie kans dat hy die jaar as die wêreld se voorste speler sal afsluit.

Hy het 1 000 meer ranglyspunte as Rafael Nadal, terwyl hy 1 470 punte bó Stefanos Tsitsipas op die ATP-ranglys is.

Djokovic in nóg ʼn eindstryd

Intussen sal Novak Djokovic later vandag probeer om sy derde toernooi op ʼn streep te wen wanneer hy in die eindstryd van die Parys-meesterstoernooi teen die einste Rune te staan kom.

Die 35-jarige Serwiër het in die halfeindstryd met Tsitsipas klaargespeel, terwyl Rune vir Felix Auger-Aliassime uitgeskakel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.