Binder gestraf, maar steeds op podium in Thaise MotoGP

Brad Binder (Foto: Lillian SUWANRUMPHA/AFP)

Brad Binder (Red Bull KTM) het Sondagoggend op die Chang- internasionale baan in Buriram sy miljoene ondersteuners na hul asems laat snak.

Binder het so byna op die Springbokke se oorwinning in die Wêreldbekertoernooi in Parys voortgebou toe hy met slegs twee rondes oor nog voorgejaag het in die Thaise MotoGP, maar derde geplaas is.

Binder, wat Saterdag tweede in die blitsren was, was in die 20ste en weer in die 21ste van 26 rondes voor nadat hy die voorloper Jorge Martin (Pramac Ducati) met skitterende jaagwerk verbygesteek het.

Maar Martin het in die tweede laaste ronde weer die voortou by Binder geneem en enduit aan sy klein voorsprong geklou.

Binder was tweede, slegs 0.114 sekondes agter Martin oor die eindstreep, maar hy is met een posisie gestraf nadat hy die baanperk in die laaste ronde oorskry het. Dit het tot gevolg gehad dat Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) bo hom in die tweede posisie geplaas is.

Die Grand Prix is deur Martin gewen, Bagnaia is tweede geplaas, Binder derde, Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) vierde, Aleix Espargaro (Aprilia Racing) vyfde en Fabio Quartararo (Monster Yamaha) sesde.

Martin, wat ook eerste in Saterdag se blitsren was, het die puntevoorsprong tussen hom en Bagnaia tot net 13 punte laat krimp met net drie wedrenne (asook drie blitsrenne) in vanjaar se reeks oor.

Bagnaia (389 punte) is steeds voor, gevolg deur Martin (376), met Bezzecchi (310) derde, Binder (249) vierde, Espargaro (201) vyfde en Johann Zarco (Pramac Racing) sesde (194).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Ek verstaan daai baan limiet straf vir Brad nie daar was niks gewees todat die wedren klaar was nie maar n hele rits ryers het waarskuwings op hulle skerms gehad maar weereens veelsgeluk Brad jy mag en kan Moto Gp jaag !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.