Blitsige Brad vierde

Ducati-Pramac se Jorge Martin en Suzuki se Joan Mir (L) tydens Sondag se MotoGP by die Red Bull Ring (Foto: JOE KLAMAR / AFP)

Min mense het Brad Binder (KTM) Sondagmiddag op die Red Bull Ring in Spielberg ʼn kans gegee, nadat hy 16de in die Steiermarkse MotoGP weggespring het.

Maar Binder het die meeste van sy kritici op hul neuse laat kyk toe hy in die laaste draai van die laaste rondte vir Takaaki Nakagami (Honda) en Johann Zarco (Ducati) verbygesteek het om tot die vierde posisie op te skuif, slegs 12.771 sekondes agter die wenner.

Die Grand Prix is deur die 23-jarige groentjie Jorge Martin (Ducati) gewen. Dit is slegs sy sesde MotoGP. Die huidige wêreldkampioen, Joan Mir (Suzuki), was tweede en Fabio Quartararo (Yamaha), die huidige voorloper in die reeks, derde.

Quartararo (172 punte) is steeds gerieflik voor op die kampioenskapspuntelys, gevolg deur Zarco (132) en Mir (121).

Binder het met sy vierde plek tot agtste (73 punte) opgeskuif.

Die Grand Prix is ná net twee rondtes stopgesit toe Dani Pedrosa geval het en Lorenzo Savatori se motorfiets syne getref het. Albei jaers se brandstoftenks het oopgeskeur en in vlamme uitgebars. Dit het langer as 30 minute vir die beamptes geneem om die baan op te ruim voordat die resies hervat kon word.

Moto-3-ren

Vroeër het Brad Binder se jonger broer, Darryn, sesde in die Moto3-ren geëindig.

Die resies is deur Pedro Acosta (KTM) gewen, met Sergio Garcia (GasGas) tweede en Romano Fenati (Max Racing Team) derde.

Die volgende ren vind aanstaande Sondag (15 Augustus) weer in Spielberg in Oostenryk plaas.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yolandi ·

Kawasaki het hierdie naweek hulle 200ste “podium” met Jonathan Rae gekry. Hulle domineer al die laaste paar jaar die World Superbike Championship.
Hulle neem nie deel aan MotoGP nie.

Casper ·

Ag ek is seker maar negatief maar Brad moes nou al met sy ondervinding en ervaring meermale op die podium gewees het dan sal hy my oortuig dat hy wel goed is.

koos10 ·

Beslis negatief. Nico Hulkenberg en Romian Grosjean in F1 het beide 179 wedrenne gehad sonder om te wen. Brad het al gewen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.