Bottas steek tong uit vir Hamilton

Mercedes-bestuurder Valtteri Bottas (Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

Valtteri Bottas gaan nie meer strooijonker vir Lewis Hamlton speel nie.

Nadat dié Finse renjaer verlede jaar sewe keer tweede in die Formule Een-reeks geëindig het (soms ná omstrede versoeke van sy Mercedes-span), het hy Sondagoggend tong uitgesteek vir Hamilton, sy spanmaat en die huidige wêreldkampioen.

Bottas het in Melbourne die Australiese Formule Een-Grand Prix, die eerste in vanjaar se reeks, oortuigend gewen met Hamilton tweede.

Max Verstappen (Red Bull) was derde, gevolg deur Sebastian Vettel (Ferrari) en Charles Leclerc (Ferrari) en Kevin Magnussen (Haas).

Bottas het sy neus voor Hamilton kort ná die wegspring gekry en nooit weer teruggekyk nie.

Hy het 20.08 sekondes voor Hamilton geëindig. Hy het meesterlik bestuur en 26 punte met sy oorwinning verdien, insluitende vanjaar se nuutjie van ʼn bykomende punt vir die vinnigste rondte.

Daar is vooraf baie verwagtinge vir Ferrari geskep, maar daar het dadels van gekom.

In die 44ste rondte het Vettel aan sy span se ingenieurs oor die radio gevra: “Hoekom is ons so stadig?” Die antwoord was kort en kragtig: “Ons weet nie op die oomblik nie.”

Mercedes-bestuurder Valtteri Bottas van Finland (regs) lei die groep tydens die begin van die Australiese Formula 1 Grand Prix in Melbourne, Australië (Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

Bottas was beskeie en nie baie spraaksaam ná sy oorwinning nie. “Ek weet nie wat nou net gebeur het nie. Die wegspring was baie goed, dit was my beste ren nog en alles was onder beheer. Ek moes vandag net geniet het. Dit gaan nie net oor die ontbyt nie, dit gaan oor jare. Die harde werk in die winter, die werk wat ek hier binne (in sy kop) gedoen het,” het hy op die podium volgens die BBC gesê.

Hamilton was vol vir Bottas en die Mercedes-span. “Dit was ʼn goeie naweek vir die span en ek moet namens almal bly wees. Valtteri het ongelooflik bestuur en verdien sy oorwinning. Dit is ʼn baie goeie begin vir die jaar. Ek sal net moet oefen en hard werk en verbeter.”

Verstappen het gesê hy was vasbeslote om voor Vettel vir ʼn podiumplek te eindig. “Om dié seisoen met ʼn podiumplek te begin en om Mercedes voor ons uit te daag, is baie positief,” het Verstappen gesê.

Van die ander voorste jaers wie se Sondag bederf is, was Carlos Saintz (11de rondte, motor slaan aan die brand), Daniel Rcciardo (31ste rondte) en Romain Grosjean (32ste rondte).

Dan het Robert Kubica, die Pool wat laas in 2010 gejaag het nadat hy in ʼn ernstige ongeluk betrokke was, laaste geëindig en is hy deur al die jaers weer verbygesteek. Maar vir sy durf, waagmoed en deursettingsvermoë verdien hy ʼn groot klop op die skouer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ewald ·

Dit was n belewenis om in Melbourne te kon wees by die resies…daai bestuurders is vreesloos

Callie van der Merwe ·

So waar is die tong uitsteek! Mm laat dit klink of die spanmaats vyande is? Hulle het mekaar in alle opsigte respekteer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.