Bottas wen, Verstappen loop weer voor

Valtteri Bottas (Mercedes) vier sy oorwinning tydens die Turkse Grand Prix (10 Oktober 2021) (Foto: Umit Bektas/Pool/AFP)

Valtteri Bottas (Mercedes) het sy eerste wedren van die seisoen gewen toe hy in die Turkse Grand Prix op ʼn sopnat baan in Istanboel eerste oor die eindstreep is.

Max Verstappen (Red Bull Honda) was tweede en is nou weer die voorloper in die bestuurderskampioenskap. Sy spanmaat Sergio Perez was derde en Charles Leclerc (Ferrari) was vierde.

Bottas se spanmaat, Lewis Hamilton, moes met ʼn vyfde plek tevrede wees nadat hy in die elfde plek weggespring het. Hy is gestraf omdat hy reeds sy vierde enjin vir die seisoen gebruik. Teen die 15de ronde het hy reeds sy pad oopgevleg tot in die vierde plek.

Teen die halfpadmerk was die baan droër en spanne moes strategiese besluite neem oor watter bande om te gebruik. Verstappen was die eerste van die top vyf jaers om in die kuipe te stop vir nuwe bande. Hamilton het nie stilgehou nie en met net sewe rondes oor het sy span hom kuipe toe gestuur. Hy het in die proses twee plekke verloor en was omgekrap.

Bottas het in die voorste plek weggespring en voorgeloop tot die 38ste van die 58 rondes voordat hy kuipe toe is vir bande. Leclerc het toe voorgeloop, maar sy bande het sy spoed gebreek. Dit het aan Bottas die voorsprong en die oorwinning gegee.

Verstappen het nie gelyk of hy te hard baklei om Bottas in te haal nie. Hy het seker gemaak hy bly in die tweede plek met die wete dat Hamilton drie plekke agter hom is.

Verstappen is nou ses punte voor Hamilton in die bestuurderskampioenskap. Die volgende wedren is die Amerikaanse Grand Prix op 24 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

Valtteri Bottas verdien sy wen. Mercedes gaan hom mis – hy moes gedurig terugstaan of help werk aan Hamilton se kroon; sal maar sien hoe lank Russel bereid gaan wees om Gielie Gedweë te speel tot Hamilton se voordeel. Ek sien Toto het sommer vergeet om applous te gee toe Bottas wen – regtig skandelik bevooroordeeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.