Buiteperd Dimitrov skok Alcaraz in Sjanghai

Grigor Dimitrov het vir Carlos Alcaraz uitgeskakel. (Foto: Wang Lili/Xinhua via AFP)

Wanneer Carlos Alcaraz deesdae op ʼn tennisbaan stap, is hy beslis die gunsteling om die wedstryd te wen. Behalwe dalk as hy teen Novak Djokovic kragte meet.

Maar gister het Grigor Dimitrov ʼn groot slag geslaan toe hy die jong Spaanse ster met 5-7, 6-2, 6-4 in Sjanghai geklop het.

Die Bulgaarse speler het tien kishoue in sy oorwinning afgevuur, terwyl hy ook meer punte met sy eerste afslaan ingeoes het en 29 wenhoue gemoker het.

“Ek het nie tou opgegooi nie en dit was die heel belangrikste; veral ná die eerste stel. Ek het goed afgeslaan, hom onder druk geplaas en puntegeleenthede vir myself geskep,” het die 32-jarige Haskovo-boorling gesê.

Volgens Dimitrov het hy ook begin om Alcaraz se afslaanwerk in die tweede stel te lees.

“In die derde stel was dit meer van ʼn kat-en-muis-storie. Ons al twee het goed gespeel, maar hy het ʼn paar foute gemaak terwyl ek baie tevrede met my afslane was.”

Teen ʼn speler soos Alcaraz moet jy volgehoue druk kan toepas en Dimitrov het erken dat hy die wêreld se naasbeste speler nie vir ʼn oomblik op die baan met rus wou laat nie.

“Ek moes dinge vir Carlos ongemaklik maak; selfs wanneer ek met my eie houespel gesukkel het. Hy hou nie daarvan om op die agtervoet te wees nie; ek het my bes probeer om met aggressiewe spel momentum op te bou.”

Dimitrov speel Vrydag teen Nicolás Jarry in die kwarteindstryd van die Rolex Sjanghai-meesterstoernooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.