Carlos knip Jannik se wenlopie kort

Carlos Alcaraz en Jannik Sinner. (Foto: X/ATP)

Dit is deesdae nie maklik om vir Jannik Sinner op ʼn tennisbaan te klop nie. Die jong Italianer wen links en regs toernooie, terwyl hy in 19 wedstryde op ʼn streep as oorwinnaar van die baan gestap het.

Maar Carlos Alcaraz het sy wenlopie kortgeknip toe die Spanjaard hul Indian Wells-halfeindstrydontmoeting met 1-6, 6-3 en 6-2 beklink het.

“Ek is baie tevrede met my geestelike ingesteldheid. Jy moet jou man in hierdie wedstryde kan staan, veral wanneer jy ʼn stel afgestaan het teen iemand wat ongelooflike tennis speel. Ek is baie trots op my vertoning ná die eerste stel,” het Alcaraz gesê.

Ondanks ʼn lang reënonderbreking het Sinner soos ʼn wegholveldbrand in die eerste stel weggetrek en hy het veral met sy kragspel beïndruk; Alcaraz is omtrent op die baan rondgejaag.

Maar in die tweede stel het die Spaanse tenniskroonprins sy spel ʼn bietjie aangepas en sy topgehalte verdediging was die perfekte antwoord op die Australiese Ope-kampioen se kragspelvraag.

“Ek met my benadering so ʼn bietjie verander en dit het baie goed uitgewerk. Ek is baie bly om weer in die eindstryd te wees.”

Alcaraz – die verdedigende kampioen – sal sake om die silwerware teen Rusland se Daniil Medvedev uitspook.

Dit sal die El Palmar-boorling se eerste groot eindstryd wees sedert hy verlede jaar teen Novak Djokovic in Cincinnati verloor het. Sedertdien het hy in vier halfeindstryde vasgeval.

Maar terug na die wedstryd teen Sinner.

“Dit is altyd spesiaal om teen Jannik te speel. Ons weet dat ons op ons heel beste sal moet wees om te wen. Ons moet met ons rakette toor en met ongelooflike punte vorendag kom.”

Iga Swiatek en Maria Sakkari speel vanaand om 20:00 in die vroue-eindstryd.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klo Jannik Sinner met 1-6, 6-3 en 6-2

Daniil Medvedev klop Tommy Paul met 1-6, 7-6 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.