Coetzé teleurgesteld met eindrondetyd

Pieter Coetzé in aksie in Doha. (Foto: Manan Vatsyayana/AFP)

Pieter Coetzé kon nie op sy indrukwekkende halfeindstrydvertoning voortbou nie en hy moes met ʼn uiteindelike vyfde plek in die eindronde van die 100 m-rugslagitem by die Wêreldkampioenskap in Doha tevrede wees.

Die jong Pretorianer het ʼn paar keer ná die 50 m-omdraaislag die toue raakgeswem en dit het beslis ʼn invloed op sy gewone sterk eindpoging gehad.

Hy het in ʼn tyd van 53.51 sekondes klaargemaak. Die item is deur Hunter Armstrong (52.68) van die VSA gewen, terwyl Hugo Gonzales (52.70) en Apostolos Christou (53.36) die podiumplekke afgerond het.

“Daar is nie eintlik veel om te sê nie – ek was nie juis meer op my senuwees as vóór ander lopies nie. Dit was ʼn nuutjie vir my om die toue te tref en ek is teleurgesteld met die uitslag van die sessie,” het Coetzé gesê.

Indien hy sy tye in die uitdunrondes (53.32) en halfeindstryd (53.07) herhaal het, sou hy die bronsmedalje ingeoes het.

Intussen het Matthew Sates sy plek in die eindronde van die 200 m-vlinderslagitem bespreek nadat hy vierde in sy halfeindstrydlopie klaargemaak het.

Die 20-jarige swemmer het met sy sterk eindpoging beïndruk nadat hy in ʼn stadium sewende was. Hy het veral oor die finale 50 m die spoedkrane behoorlik oopgedraai om verrigtinge met ʼn tyd van 1:55.88 af te sluit.

Volgens Sates het hy gedoen wat hy moes in die halfeindstryd, maar nou is sy volle aandag op die komende eindronde.

“Dit is soos wat almal sê: As jy ʼn baan het, staan jy ʼn kans. Ek sal in baan een wees en dit voel goed om te swem onder die Suid-Afrikaanse vaandel. Ek sal beslis my heel beste gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.