Daniil in ’n Kyrgios-kuil

Nick Kyrgios het vir Daniil Medvedev in New York uitgeskakel. Foto: Corey Sipkin/AFP.

In vyf probeerslae kon Daniil Medvedev nog net een keer met Nick Kyrgios afreken. En toe die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen vroeg vanoggend (SA tyd) sy rieme teen die vurige Aussie styfloop, het hy ook sy plek heel bo‑aan die ATP-ranglys prysgegee.

Kyrgios het die Russiese ster met 7-6, 3-6, 6-3 en 6-2 geklop om sy plek in die volgende ronde in New York te bespreek.

En dit is nie asof Medvedev baie sleg gespeel het nie; Kyrgios het net doodeenvoudig in die kollig geskitter.

“Dinge het vandag vir my reg geloop en ek is veral tevrede met die wyse waarop ek sy afslaanwerk hanteer het. Ek het veral in die derde en vierde stel baie pret gehad en ek het sy ritme lelik ontwrig,” het Kyrgios gesê.

Oudergewoonte het die twee spelers vir ’n aksiebelaaide wedstryd gesorg en Andy Roddick het dit met ’n boksgeveg vergelyk.

“Hierdie is ongelooflik. Super hoë intensiteit. Swaargewigstryd,” het die voormalige wêreldnommereenspeler getwiet.

Op sy beurt het Medvedev erken dat Kyrgios die beter speler was.

“Nick het vandag op Novak en Rafa se vlak gespeel. As hy aanhou om hierdie standaard te handhaaf kan hy beslis die toernooi wen,” het die Rus gesê.

Soos reeds genoem, sal die 26-jarige speler afstand doen van sy plek bo-aan die ATP-ranglys.

Volgens ATP.com het óf Rafael Nadal óf Carlos Alcaraz óf Casper Ruud nou ’n kans om die septer op die internasionale tennisranglys te swaai.

  • Kyrgios se rekord teen topspelers:

Stefanos Tsitsipas: vier gewen, een verloor

Alexander Zverev: vier gewen, drie verloor

Daniil Medvedev: vier gewen, een verloor

Rafael Nadal: drie gewen, ses verloor

Novak Djokovic: twee gewen, een verloor

Roger Federer: een gewen, ses verloor.

Uitslae:

Nick Kyrgios klop Daniil Medvedev met 7-6, 3-6, 6-3 en 6-2

Karen Khachanov klop Pablo Carreno Busta met 4-6, 6-3, 6-1, 4-6 en 6-3

Casper Ruud klop Corentin Moutet met 6-1, 6-2, 6-7 en 6-2

Ons Jabeur klop Veronika Kudermetova met 7-6 en 6-4

Ajla Tomljanović klop Ludmilla Samsonova met 7-6 en 6-1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Richard ·

Dit is ‘n skande dat Djokovic nie mag speel nie, en wie ookal nou wen, sal weet dat hy waarskynlik nie sou wen as Djokovic daar was nie.

Moedeloos ·

Stem nie saam nie. Niemand kan n wedstryd vooraf bepaal nie.

George ·

Soos Djokavic se Wimbledon vir hom gegee is na Nadal se besering?

Treurwilger ·

Kyrgios kan beslis die Slams inryg as hy kophou.
Hoop hy wen dié een, terwyl Novak nie daar mag wees nie.
Wat ‘n skreiende skande dat oningespuites in hul duisende oor die Meksikaanse grens die VSA binne stroom, maar die mees gesondsheidsbewuste atleet in die wêreld word nie toegelaat nie.

Chivago ·

En die beste speler moet maar by die huis sit en kyk….wat ‘n klug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.