Daniil slaak ʼn sug van verligting

Rusland se Daniil Medvedev. (Foto: Twitter/ATP)

Daniil Medvedev het al amper 80 wedstryd in die ATP 1 000-toernooie gewen, maar hy kon nog nooit as die wenner van die baan in Rome stap nie.

Tot gister, natuurlik.

Die Rus het Finland se Emil Ruusuvuori met 6-4 en 6-2 in die Italiaanse Ope gewen om uiteindelik met ʼn oorwinning in die antieke stad te spog.

“Ek het beslis ʼn sug van verligting geslaak. Ek weet dat ek goeie tennis kan speel en ek is baie bly om uiteindelik ʼn wedstryd in Rome te wen,” het Medvedev gesê.

Novak Djokovic het ook sy plek in die volgende ronde van die toernooi bespreek toe hy vir Grigor Dimitrov in drie stelle met 6-3, 4-6 en 6-1 geklop het.

Die Serwiër meen dat hy die wedstryd reeds na twee stelle kon beklink het, maar Dimitrov se terugvegpoging het die toeskouers aan sy kant gekry en hy het skielik met meer energie begin speel.

Tog was Djokovic oudergewoonte op sy beste in die wedstryd se belangrike oomblikke.

“Gelukkig kon ek al meer wedstryde wen as verloor wanneer dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie. Terselfdertyd het ek ook al baie kragmetings – veral in die begin van my loopbaan – verloor en ek het beslis waardevolle lesse daaruit geleer,” het Djokovic gesê.

Uitslae:

Jannik Sinner klop Alexander Shevchenko met 6-3, 6-7 en 6-2

Alexander Zverev klop David Goffin met 5-7, 6-3 en 6-4

Cameron Norrie klop Marton Fucsovics met 6-2 en 7-6

Casper Ruud klop Alexander Bublik met 6-1, 4-6 en 7-6

Novak Djokovic klop Grigor Dimitrov met 6-3, 4-6 en 6-1

Yannick Hanfmann klop Taylor Fritz met 6-4 en 6-1

Daniil Medvedev klop Emil Ruusuvuori met 6-4 en 6-2

Holger Rune klop Fabio Fognini met 6-4 en 6-2

Marie Bouzkova klop Coco Gauff met 4-6, 6-2 en 6-2

Iga Swiatek klop Lesia Tsurenko met 6-2 en 6-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.