Dimitrov steeds op die wenpad

Grigor Dimitrov in aksie in Sjanghai. (Foto: Twitter/ATP)

Grigor Dimitrov het gewys dat sy oorwinning teen Carlos Alcaraz gʼn frats was nie toe hy vir Nicolas Jarry met 7 – 6 en 6 – 4 geklop het om na die halfeindstryd van die Sjanghai-meesterstoernooi deur te dring.

Die 32-jarige Bulgaarse speler het Jarry se vurige afslaanwerk getem, terwyl hy ook bitter min ongedwonge foute op die baan gemaak het.

Hy het die wedstryd uiteindelik in een uur en 39 minute beklink.

“Na my mening is Nicolas se afslaanwerk van die beste op die internasionale verhoog. Ek het al ʼn paar keer teen hom gespeel en dit raak net moeiliker om die bal terug te stuur. Vandag kon ek egter in die belangrikste oomblikke van die wedstryd staande bly,” het Dimitrov gesê.

Volgens die Haskovo-boorling het hy niks buitensporig probeer doen nie.

“Ek het net in my eie vermoëns op die baan geglo en wenhoue probeer speel. ʼn Mens kry nie veel geleenthede teen hom nie; veral nie in die aanloop tot ʼn wedstryd nie. Ek het my bes gedoen om hom onder druk te plaas en hy het ʼn paar foute gemaak.”

Hy sal in die halfeindstryd teen Andrey Rublev speel.

Die Russiese speler het vir Ugo Humbert met 6 – 2 en 6 – 3 geklop om vir die uitklopwedstryd te kwalifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.