Dit is weer tyd vir die Kaapstad-fietstoer!

Foto: Verskaf.

Dit is Sondag weer tyd vir die immergewilde Kaapstad-fietstoer en die verdedigende kampioenryers is terug om hul titels te verdedig.

Nolan Hoffman het verlede jaar die tweede mees suksesvolle mansfiestryer in die geskiedenis van die kompetisie geword toe hy die silwerware vir die vierde keer in sy loopbaan omhoog gehou het.

Die legendariese Willie Engelbrecht se rekord van vyf titels is nou vierkant in die 36-jarige trapper se visier.

Hy kan egter kwaai teenstand van Christiaan Janse van Rensburg, Travis Barrett, Clint Hendricks en Reinhardt Janse van Rensburg verwag.

Onder die elite-vrouedeelnemers sal Kim le Court de Billot weer op haar pos wees, terwyl Cherise Williet (vyfmalige kampioen) ook onder die voorste ryers tel.

Die wedren is teen dié tyd ook al sinoniem met geldinsamelingswerk en oudergewoonte sal ’n hele paar bekendes hul speke vir liefdadigheid laat sing.

Mark Fish, voormalige Bafana Bafana-sokkerspeler, sal poog om R10 000 vir die Cape Town Child Welfare Society (CTCWS)  in te samel.

Volgens die sokkerster het die wêreldwye Covid-19-pandemie veral ’n negatiewe invloed op kwesbare kinders se lewens en hy het maatskaplike werkers vir hul toewyding geloof.

Dan sal Wim de Villiers, vise-kanselier van die Universiteit van Stellenbosch, weer ten bate van hulpbehoewende studente trap.

“Ons studente word deur talle uitdagings in die gesig gestaar, maar ’n gebrek aan finansiële bystand behoort nie een van hulle te wees nie. Ja, hierdie geldinsamelingspoging sal waarskynlik nie die berg voor hulle wegneem nie, maar dit behoort die klimwerk te vergemaklik,” De Villiers gesê.

Die elite-wedrenne sal regstreeks op die fietstoer se Facebook-blad uitgesaai word. Die aksie begin Sondagoggend om 06:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SlinkseKoljander ·

Nee wat, net nou kanseleer hulle dit weer op nommer 99 en jy verloor al jou geld. Ek het dit drie keer gedoen en dit het toe ook al begin boring word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.