‘Dit voel onwerklik,’ sê parapleeg ná 15de goud

Sarah Storey vier haar goue medalje. Foto: Charley Triballeau/AFP.

Sarah Storey was net 14 jaar oud toe sy haar Paralimpiese buiging by die Barcelona-spele in 1992 gemaak het. Nou, amper 30 jaar later, het sy haar 15de goue medalje by die internasionale sportskouspel gewen.

Die 43-jarige Brit, wie se linkerhand nie behoorlik ontwikkel het nie, het aanvanklik vyf goue medaljes as ’n swemmer ingeoes, voordat sy in 2005 haar swempet vir ’n fiets verruil het. En sedertdien oorheers sy die sport.

Haar 15de goue medalje was juis as ’n fietsryer in Tokio toe sy die 3 000 m- individuele resies (C5) gewen het.

Indien sy nog twee verdere goue medaljes in Japan wen, sal sy Groot-Brittanje se suksesvolste paraplegiese atleet ooit word.

Mike Kenney (swemmer) hou tans die rekord met sy 16 goue medaljes.

“Ek het so toegewyd vir dié Spele voorberei en almal het my knaend herinner aan al die harde werk wat ek ingesit het. Maar tog het die prestasie as ’n verrassing gekom; dit voel eintlik onwerklik,” het Storey gesê.

Dit is ook die eerste keer in haar Spele-loopbaan dat sy voor geen toeskouers deelneem nie en weens die wêreldwye Covid-19-pandemie was haar familie ook nie daar om haar aan te moedig nie.

“Dit is baie moeilik om sonder hulle hier te wees; hulle is immers my grootste motivering om goed te doen. Hulle doen soveel moeite om alles vir my moontlik te maak en ek is hulle ewig dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.