Djokovic droom nog van Olimpiese glorie

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

Dit is geen geheim dat Novak Djokovic daarvan droom om die wêreld se suksesvolste tennisspeler nóg te wees nie.

Die wenner van 21 Grand Slam-titels het die afgelope naweek ook met die louere by die Watergen-ope in Tel Aviv weggestap. ʼn Prestasie wat van hom die eerste manspeler gemaak het om vanjaar  ʼn titel op al drie speeloppervlakke in te oes.

Maar selfs al is sy vertoonkas besig om uit sy nate te bars, word daar nog ʼn spesiale plek vir ʼn Olimpiese goue medalje gereserveer.

Die Serwiese ster het in die Tokio teen Alexander Zverev uit die bus geval toe die jong Duitser hom met 1-6, 6-3 en 6-1 in die Olimpiese halfeindstryd uitgeboender het.

ʼn Dag later het hy ook die onderspit teen Spanje se Pablo Carreño Busta in die bronsmedaljewedstryd gedelf.

“ʼn Olimpiese medalje – veral ʼn goue een – was nog altyd een van my grootste wense. Ongelukkig het ek nog nie ʼn geleentheid gehad om daarvoor te speel nie, maar ek beplan om deel van die Olmpiese aksie in Parys te wees,” het Djokovic aan ʼn Serwiese nuusstasie gesê.

Volgens die voormalige wêreldno. 1-speler het hy al die wedstryd teen Zverev male sonder tal in sy gedagtes teruggespeel.

“Ek probeer my bes om te bepaal waar dinge vir my destyds skeefgeloop het. Ek het uitstekende tennis in die aanloop tot daardie wedstryd gespeel, maar ek was moeg – emosioneel sowel as fisiek.”

Djokovic sal 37 jaar oud wees wanneer die Franse hoofstad gasheer vir die Olimpiese Spele in 2024 speel en jong sterre soos Carlos Alcaraz en Jannik Sinner sal gedugte teenstanders wees.

“Ek wil nog speel, selfs al het ek al baie van my doelwitte bereik. Ek het steeds ongekende passie vir die sport en ek is honger vir sukses. Ek probeer gereeld nuwe dinge want ek wil as ʼn speler groei; veral wanneer jy met iemand soos Alcaraz kragte meet, wat met soveel spierkrag en energie speel. Ek probeer altyd om my spel na ʼn hoër vlak te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.