Djokovic ‘opgewonde’ om weer af te slaan

Novak Djokovic van Serwië. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Die wêreld se voorste speler, Serwië se Novak Djokovic, het bevestig dat hy later vandeesmaand by die Amerikaanse Ope in aksie sal wees.

Die nuus sal ’n welkome hupstoot vir die toernooi wees. Verskeie spelers, onder wie Rafael Nadal en Bianca Andreescu, het aangedui dat hulle onder meer weens Covid-19-vrese nie na New York sal reis nie.

“Ek is dankbaar om die nuus te bevestig dat ek wel deel van die Amerikaanse Ope-aksie sal wees. Daar was talle hindernisse in die pad en dit was hoegenaamd nie ’n maklike besluit nie, maar die vooruitsig om weer tennis te speel het my baie opgewonde gemaak,” het hy gesê.

Djokovic is vroeër vanjaar gekritiseer omdat hy ’n toernooi te midde van die wêreldwye pandemie van stapel gestuur het.

Verskeie spelers, onder wie hyself, het positief vir Covid-19 getoets.

Volgens die Serwiese ster weet hy dat dinge anders by vanjaar se Amerikaanse Ope sal wees – daar is onder meer ’n rits gesondheidsregulasies ingestel om die spelers en beamptes te beskerm.

“Ek het hard saam met my span voorberei om by enige situasie aan te pas. Daarbenewens het ek seker gemaak dat ek ten volle herstel het en gereed is om weer my beste tennis te speel.”

Rafael Nadal, wat die toernooi verlede jaar gewen het, het vroeër gesê dat hy nie bereid is om na New York te reis nie.

“Dit is ’n baie moeilike situasie – Covid-19-gevalle neem toe en dit lyk asof dit nog nie onder beheer is nie. Dit is ’n besluit wat ek nooit sou wou neem nie, maar hierdie keer gaan ek na my hart luister en vir eers liewer nie reis nie,” het Nadal gesê.

Djokovic het die situasie betreur, hoewel hy begrip toon vir spelers wat verkies om nie te speel nie.

“Ek hoop die situasie sal binnekort verander en dat ons almal weer terug op die baan sal wees.”

Die Amerikaanse Ope sal op 31 Augustus in New York begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.