Djokovic pak Medvedev in woestynstryd

Novak Djokovic is deur na nóg ’n halfeindstryd. Foto: Twitter.

Novak Djokovic sal teen Daniil Medvedev te staan kom in een van die halfeindstryde van die Dubai Duty Free-tenniskampioenskap.

Die wêreld se voorste speler het ʼn onheilspellende waarskuwing aan sy teenstanders gerig toe hy Hubert Hurkacz met 6-3 en 7-5 geklop het.

Die Serwiër het die eerste stel op ʼn drafstap gewen, maar die jong Poolse speler het goed in die tweede stel teruggeveg om selfs ʼn voorsprong van 5-4 op te bou. Tog weet Djokovic presies hoe om tenniswedstryde te wen en hy het vir nóg ʼn halfeindstryd gekwalifiseer.

“Hubert het een van die beste afslane op die internasionale verhoog en hy het met gemak potte gewen. Gelukkig kon ek ook vlamvat en ek het goeie ritme met my afslaanwerk gehad. Enige speler kon eintlik die wedstryd wen, maar ek is baie tevrede met die wyse waarop ek die druk kon hanteer,” het Djokovic gesê.

Op sy beurt het Medvedev vir Borna Coric met 6-3 en 6-2 geklop en hy het ʼn spul punte teen die einde van die wedstryd ingeoes.

“Een-en-twintig punte op ʼn streep; ek weet nie of dit ʼn persoonlike rekord is nie, maar ek het goeie spel opgedis,” het hy na afloop van die wedstryd gesê.

Die 27-jarige Rus het reeds vanjaar met die louere in Rotterdam en Doha weggestap, tog swaai Djokovic beslis die septer in hul tweestryde. Die Serwiese ster het nege van hul dertien kragmetings gewen.

“Ek speel tans goeie tennis, maar wanneer jy teen Novak Djokovic in aksie is, is hy altyd die gunsteling om te wen.”

Uitslae:

Daniil Medvedev klop Borna Coric met 6-3 en 6-2

Novak Djokovic klop Hubert Hurkacz met 6-3 en 7-5

Andrey Rublev klop Botic van de Zandschulp met 6-3 en 7-6

Alexander Zverev klop Lorenzo Sonego met 7-5 en 6-4

Bepalings:

Alexander Zverev teen Andrey Rublev

Novak Djokovic teen Daniil Medvedev.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.