Djokovic trap nie klei teen Rus

Novak Djokovic het op ’n wennoot in Monte Carlo begin. (Foto: Valery Hache/AFP)

Tennis se kleibaanseisoen is hier en Novak Djokovic het moeiteloos sy eerste wedstryd in Monte Carlo gewen.

Die wêreld se voorste speler het Rusland se Roman Safiullin met 6-1 en 6-2 geklop.

“Ek is baie tevrede,” het Djokovic gesê nadat hy die kragmeting in net meer as ʼn uur beklink het. “Ek het selfs in die potte wat ek verloor het oukei op die baan gevoel en dit is ʼn goeie aanloop tot my kleibaanseisoen.”

Die Serwiër het 16 wenhoue geslaan en hy was genadeloos – arme Safiullin is omtrent op die baan rondgejaag.

Djokovic het Sondag die oudste speler nóg geword om die eerste plek op die amptelike ATP-ranglys te beklee en hy is oorgehaal om op sy vorige vertonings in Monaco te verbeter.

Hoewel hy reeds twee keer met die toernooi-louere weggestap het, sukkel hy die afgelope ruk om verby die kwarteindronde te vorder.

“Ek het eerlikwaar nooit gedink óf gedroom dat ek op amper 37-jarige ouderdom nog die wêreld se voorste speler sal wees nie. My toewyding tot die sport en my algehele fiksheid beteken dat ek jaarliks nog ʼn hoofstuk by my loopbaan kan voeg.”

Hy sal in die volgende ronde teen Lorenzo Musetti te staan kom.

Djokovic sukkel deesdae teen Italiaanse spelers nadat hy vanjaar reeds teen Jannik Sinner en Luca Nardi vasgeval het.

Alcaraz uit met seer arm

Carlos Alcaraz het hom Dinsdag aan die Monte Carlo-skouspel onttrek nadat hy ʼn besering aan sy regtervoorarm opgedoen het.

“Ek het hard gewerk om betyds van die besering te herstel, maar dit was onmoontlik en ek kan nie speel nie. Ek het baie na die toernooi uitgesien, maar ek sien julle volgende jaar,” het die jong Spanjaard op sosiale media gedeel.

Uitslae:

Lorenzo Musetti klop Arthur Fils met 6-3 en 7-5

Alexander Zverev klop Sebastian Ofner met 6-3 en 6-4

Novak Djokovic klop Roman Safiullin met 6-1 en 6-2

Hubert Hurkacz klop Jack Draper met 6-4, 3-6 en 7-6

Alex de Minaur klop Stan Wawrinka met 6-3 en 6-0

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.