Djokovic wen 90ste titel

Novak Djokovic. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Dit was nie Novak Djokovic se beste tennisjaar nie, maar hy het wel daarin geslaag om sy 90ste titel te wen. Sy oorwinning in die Astana-toernooi in Kazakstan was ook sy vierde titel van die jaar.

Hy het net 75 minute nodig gehad om die Griek Stefanos Tsitsipas 6-3 en 6-4 te klop.

Dit was boonop die 35-jarige Djokovic se negende agtereenvolgende oorwinning en hy het daarmee vir die ATP-jaareindtoernooi gekwalifiseer.

Tsitsipas het nou ál nege van die ATP500-toernooie se eindstryde waarin hy gespeel het, verloor.

Van die tien wedstryde wat die twee teen mekaar gespeel het, het Djokovic agt gewen – dit sluit die laaste sewe wedstryde in.

By die Japan Ope het die Amerikaner Taylor Fritz sy landgenoot, Frances Tiafoe, in ʼn taai eindstryd geklop. Die 24-jarige Fritz skuif met sy oorwinning van 7-6 (7/3), 7-6 (7/2) vir die eerste keer in die toptien op die wêreldranglys in. Hy sal opskuif na die agste plek.

In Monastir, Tunisië het die Belg Elise Mertens haar sewende titel op die WTA-toer gewen. Sy het Alize Cornet maklik met 6-2 en 6-0 kafgedraf in 80 minute.

Dit was die 26-jarige Mertens se eerste titel sedert Februarie verlede jaar.

Die toernooi is net die tweede WTA-toernooi in Afrika saam met die een in Rabat, Marokko.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DJ ·

Inteendeel was dit ‘n baie goeie jaar waar hy onder baie inentings kritiek uitstekend gedoen het. Hy is voorwaar ‘n beginselvaste voorbeeld vir baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.