Doele en opskuddings in Katar

Deur Riaan Hofmeyr

Cristiano Ronaldo vier een van Portugal se doele teen Ghana. Foto: Patricia de Melo Moreira/AFP.

Die eerste week van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar het reeds vir ’n rits opskuddings gesorg.

Die gasheerland se sprokiesverhaal is sommer vroeg kortgeknip toe hulle in die openingswedstryd met 2-0 teen Ecuador verloor het. In die ander Groep A-wedstryd het Nederland tot op die nippertjie gewag om twee doele teen Senegal aan te teken.

In Groep B het Engeland vir Iran met 6-2 oorrompel, terwyl Wallis terugbaklei het om met 1-elk gelykop teen die VSA te speel. Gareth Bale het oudergewoonte tot die Drake se redding gekom toe sy strafdoelpoging die agterkant van die net gevind het.

Saoedi-Arabië het ’n skokgolf deur wêreldsokker gestuur toe hulle met uitstekende spel vir Argentinië met 2-1 geklop het. Die Suid-Amerikaners is immers een van die gunstelingspanne om met die louere weg te stap.

Mexiko en Pole het egter gaap-gaap met 0-elk gelykop gespeel om Groep C se wedstryde af te rond, terwyl Denemarke en Tunisië (0-0) ook nie vir veel opwinding in Groep D gesorg het nie.

Frankryk het egter vir Australië met 4-1 verwoes nadat die Aussies met een doel voor was vroeg in die wedstryd. Olivier Giroud het met sy skerpskutterpogings die Fransmanne se doelerekord (51) geëwenaar.

Groep E, wat as die moeilikste groep beskou word, het natuurlik vir nóg ’n opskudding gesorg toe Japan vir Duitsland met 2-1 verras het, terwyl Spanje vir arme Costa Rica met 7-0 van die baan gevee het.

Groep F was doodstil met België wat die enigste doel in die afdeling aangeteken het toe hulle vir Kanada met 1-0 geklop het, terwyl Marokko en Kroasië geen doelaksie in hul wedstryd opgelewer het nie.

Switserland het dinge rustig in hul Groep F-wedstryd teen Kameroen gevat om die Afrika-span met 1-0 te klop. Daarteenoor het Brasilië vir almal gewys dat hulle daar is om ’n punt te bewys toe hulle ’n sterk Serwiese span met 2-0 getroef het.

Uruguay en Suid-Korea kon ook nie die agterkant van die doelhok vind nie, maar Portugal en Ghana het vir ’n vuurwerkvertoning gesorg.

Portugal het uiteindelik die klipharde tweestryd met 3-2 gewen met Cristiano Ronaldo wat die eerste speler in die skouspel se geskiedenis geword het om ’n doel in vyf toernooie aan te teken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.