Dubai-gholf: Vonke spat in die woestyn

Rory McIlroy in Dubai. (Foto: Karim SAHIB / AFP)

Die Noord-Ierse gholfspeler sê hy gaan Sondag net op sy eie spel konsentreer en nie toelaat dat sy aandag deur die Amerikaner Patrick Reed in die driebal voor hom in die derde rondte van die Dubai Desert-gholftoernooi afgetrek word nie.

McIllroy en Reed is albei op 136 houe (-8) net twee houe agter die jong Amerikaanse amateur Michael Thorbjornsen, Richard Bland (Engeland) en Tomas Pieters (België) wat almal op 134 houe (-10) ná die tweede rondte van die reënonderbreekte toernooi geëindig het.

Die geldryke toernooi (met prysgeld R137 miljoen) loop eers Maandag ten einde.

Dis half jammer dat McIlroy, die wêreld se voorste speler, en Reed nie saam kon speel nie, want daar is geen vriendskap tussen die twee nie. Reed is een van die spelers wat in die LIV-reeks speel en juis vir McIlroy die dag voor Kersfees gedagvaar oor sy (Reed ) se betrokkenheid by die reeks en McIlroy se teenkanting daarvan.

Maar terwyl McIlroy en Reed in die kollig is, het die 21-jarige Thorbjornsen met sy 64 houe in die tweede rondte die ondersteuners gaande gehad

Thorbjornsen is die seun van die oud-Noorweegse gholfspeler Thorbjorn Thorbjornsen en ʼn Zimbabwiese vrou.

Thorbjornsen-hulle word op 135 (-9) gevolg deur Adri Arnaus (Spanje), Conor Syme (Skotland) en Marcus Kinhult (Swede) met McIlroy-hulle saam op 136 (-8).

Suid-Afrika se Louis de Jager (137, -7) is stewig in die wedloop, asook Justin Harding, Shan Norris en Jacques Kruyswijk (almal 138, -6) met Oliver Bekker ʼn hou verder terug op 139 (-5).

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Farmers Insurance-toernooi wat op Torrey Pines in San Diego, Kalifornië, gespeel is, het die Amerikaner Max Homa met 275 houe (-13) gewen nadat hy twee houe voor sy landgenoot Keegan Bradley (277, -11) geëindig het .

Nog drie Amerikaners, Collin Morikawa, Sam Ryder en Sahith Theegala, was saam derde op 278 (-10).

Suid-Afrika se Dylan Frittelli en Dean Burmester was albei op 289 (+1) in die 37ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.