F1-kroonprins Charles sukkel in vorstedom

Ferrari se Charles Leclerc. (Foto: Con Chronis/AFP.)

Charles Leclerc is gebore en getoë in Monaco, maar kon nog nooit met die louere in die strate van Monte Carlo wegjaag nie.

Die 25-jarige renjaer kon nie sy eerste drie wedrenne op dié ikoniese straatrenbaan voltooi nie, terwyl Ferrari se strategieblaps verlede jaar die weg vir Sergio Perez gebaan het om eerste oor die wenstreep te jaag.

’n Reënbui het toe nie net gesorg dat die wedren laat begin nie, maar het ook ’n invloed op die spanne se bande- en kuipstrategieë gehad.

Soos wat die reën opgeklaar het, het die renjaers hul natweerbande vir iets meer geskik verruil en in dié deurmekaarspul het Leclerc sommer sy voorsprong afgestaan; tot sy ewige frustrasie.

En moet ook nie dink dinge lyk baie meer rooskleurig in 2023 nie.

Leclerc is tans sewende op die jaerspunteleer en Christian Horner, Red Bull-spanhoof, het vroeër geskerts dat Ferrari en Mercedes se enjins as’t ware in 2022 bly luier het.

Daarteenoor het Red Bull met die tye aanbeweeg en vuurwaens vir Perez en Max Verstappen beskikbaar gestel wat nie sommer vir enigiets skrik nie.

Ferrari moet spoedig weer op alle suiers vuur. (Foto: Eric Gaillard/AFP.)

Dit is terselfdertyd baie moeilik om ander renjaers in Monaco verby te steek. Daarom is die voorafgaande kwalifiserende rondes van groot belang.

Leclerc het juis vroeër vanjaar gewys waartoe hy in staat is toe hy eerste op die wegspringrooster in Azerbeidjan gestaan het.

Perez het egter toe ook sy status as die straatrenkoning onderstreep toe die geruite vlag vir hom geswaai is. Die Ferrari-renjaer was amper 22 sekondes stadiger as die Mexikaner in sy vlieënde Red Bull.

Tog is Leclerc oudergewoonte ’n teenstander wat nie ligtelik opgeneem moet word nie.

Felipe Massa het juis vroeër gesê dat Leclerc die skerpste pyl in Ferrari se aanvalskoker is.

“Ek moet erken: Carlos Sainz was die beste in sy eerste jaar saam met die span, maar toe het die renmotor gesukkel om by die res kers vas te hou. Toe die motor in 2022 op alle suiers gevuur het, was Charles beslis die sterkste,” het die oudrenjaer aangevoer.

  • Die Monaco- Grand Prix word hierdie Sondag beslis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Aai, Ferrari…. die hoop beskaam nie maar jul rooi Italiaanse karre kan netnie voor kom nie. Dalk moet julle maar weer ‘n Franse spanbaas, Engelse tegniese direkteur en ‘n S.A. ontwerper nadertrek? O ja, en ‘n Duitse renjaer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.