Federer gaan WB-aksie volg

Die tennisheld Roger Federer was toergids vir Springbokkaptein Siya Kolisi in die strate van Zürich. (Foto: Roger Federer/Twitter)

Roger Federer het Dinsdag ʼn vraag-en-antwoordsessie op sy amptelike Twitter-blad aangebied. En tussendeur bewonderaars se vrae oor Rafael Nadal en watter speler se afslaanwerk die beste is, het die Franse rugbybeheerliggaam ook sy tikvaardighede uitgestal.

Die Wêreldbeker-rugbytoernooi word vanjaar in dié Europese land aangebied en die Hane se rugbybase het die Switserse tennislegende gevra of hy die aksie gaan volg.

“Natuurlik! En ek hoop om een van die wedstryde by te woon,” was Federer se onmiddellike reaksie.

Die wenner van 20 Grand Slam-titels het in 2021 toergids vir Siya Kolisi gespeel toe die Springbok-kaptein ʼn draai in Zürich gemaak het. Hy het ook ʼn Springbok-trui tydens sy vertoonwedstryd teen Nadal in Kaapstad gedra.

Een van die sosialemediagebruikers het Federer juis gevra of hy na sy speeldae teen die Spanjaard verlang.

“Ja en nee,” was sy antwoord terwyl hy na die Franse Ope-eindstryd van 2008 verwys het; ʼn eensydige kragmeting wat Nadal met 6-1, 6-3 en 6-0 in Parys beklink het.

“Daardie vier potte was fantasties,” het hy geskerts.

Hy het ook ʼn lekker antwoord gereed gehad toe hy uitgevra is oor of bewonderaars hom al met ʼn ander ster misgis het.

“So iets het net nou die dag by die F1 gebeur. ʼn Ou het my gevra of hy ʼn foto saam met “mnr. Nadal” kan neem. Ek het vir hom gesê dat ek nie mnr. Nadal is nie. Hy het toe terstond verskoning gevra en weggeloop!”

Die 41-jarige oudspeler het in 2022 sy amptelike uittrede aangekondig nadat ʼn rits knieoperasies hom geruime tyd langs die baan gehou het.

“Die laaste 24 jaar se toerwedstryde was ʼn ongelooflike avontuur en soms voel dit of dit eintlik in 24 uur verby my geflits het. Ek het gelag, gehuil, vreugde en hartseer ervaar, maar bowenal het ek voluit geleef.

“Dankie tennis, ek het jou lief,” het hy in sy uittredeboodskap gesê.

Nodeloos om te sê het een bewonderaar hom oor ʼn moontlike terugkeer gepols.

“Wel, ek was nog nooit eintlik weg [van die sport] nie,” was Federer se raakvat-antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.