Federer opgewonde oor Laverbeker se supersterre

Roger Federer en Rafael Nadal tydens verlede jaar se Laverbeker-toernooi. (Foto: Twitter. )

Dit is weer tyd vir die Laverbeker waar van die beste Europese tennisspelers hul staal teen internasionale teenstanders moet wys.

Vanjaar word die sportskouspel in Vancouver aangebied en ʼn opgewonde Roger Federer kan nie wag vir die aksie om Vrydag te begin nie.

“Goeie voorbereiding en ʼn speler se vermoë om in ʼn spanopset te floreer, is die sleutel tot Laverbeker-sukses. Terselfdertyd moet hy ook bereid wees om na die raad van spelers te luister wat al vantevore in die toernooi afgeslaan het,” het die Switserse tennislegende gesê.

Federer was deel van die Europese span wat in 2017, 2018 en 2019 met die louere weggestap het, terwyl sy laaste professionele wedstryd ook in Laverbeker-kleure was.

Sportliefhebbers kon verlede jaar vir oulaas tennis se grootste kunstenaar in aksie sien toe hy saam met Rafael Nadal in ʼn dubbelspelwedstryd gespeel het.

Ja, “Fedal” het weliswaar met 4-6, 7-6 en 11-9 teen die Wêreldspan se Jack Sock en Frances Tiafoe in Londen vasgeval, maar die aand het ongetwyfeld aan die Switserse meester behoort.

Vir meer as twee uur het die 42-jarige speler die horlosie teruggedraai – daar was sy majestueuse (want dit is inderdaad wat dit is) rughandhoue, toorkuns en die selfvertroue van ouds.

Geen wonder die Laverbeker het so ʼn spesiale plek in sy hart nie.

“Veral die dubbelspelaksie laat my regop sit want daar is gewoonlik spelerkombinasies wat ons nog nie vantevore gesien het nie. Ek sal byvoorbeeld daarvan hou as Hubert Hurkacz en Andrey Rublev saamspeel, terwyl Ben Shelton en Frances Tiafoe ook goeie spanmaats kan wees.”

“Ek is mal oor die supersterkombinasies. Dit is baie opwindend.”

  • Laverbeker-spanne:

Europa: Casper Ruud, Andrey Rublev, Hubert Hurkacz, Alejandro Davidovich Fokina, Arthur Fils, Gael Monfils en Bjorn Borg (spankaptein)

Wêreld: Taylor Fritz, Felix Auger-Aliassime, Frances Tiafoe, Tommy Paul, Ben Shelton, Francisco Cerundolo en John McEnroe (spankaptein).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.