Fikse Norrie laat Alcaraz in Cincinnati sweet

Cameron Norrie. Foto: Twitter.

Cameron Norrie het vandag met sy derde jong teenstander in Cincinnati afgereken toe hy die opwindende Carlos Alcaraz met 7-6, 6-7 en 6-4 in die kwarteindstryd van die Western & Southern-ope geklop het.

Hy het vroeër in die toernooi vir Holger Rune (19 jaar oud) en Ben Shelton (19 jaar oud) ore aangesit.

Norrie, wat in Johannesburg gebore is, het meer punte op sy afslaanwerk as die jong Spanjaard verdien terwyl hy ook ’n agterstand van 1-3 in die beslissende stel uitgewis het.

“Dit was ’n ongelooflike stryd en Carlos verdien ook lof vir die wyse waarop hy gespeel het. Nadat ek die eerste stel gewen het, het ek ’n bietjie perspektief verloor. Ek het meer aan die uiteindelike oorwinning as aan die volgende punt begin dink en dinge het so amper skeefgeloop,” het die Britse speler gesê.

Tog word Norrie as een van die fiksste spelers op die internasionale tennisverhoog gereken en hy het naderhand net te veel skietgoed vir sy teenstander gehad.

“Fisieke spel is die enigste manier hoe ek vir Carlos kon troef en ek het probeer om dinge so taai as moontlik vir hom te maak. Ek is ook baie tevrede met my afslaanwerk.”

Hy kom nou later in die halfeindstryd teen Kroasië se Borna Coric te staan, terwyl Daniil Medvedev en Stefanos Tsitsipas in die ander halfeindstryd speel.

  • Uitslae:

Cameron Norrie klop Carlos Alcaraz met 7-6, 6-7 en 6-4

Borna Coric klop Felix Auger-Aliassime met 6-4 en 6-4

Daniil Medvedev klop Taylor Fritz met 7-6 en 6-3

Stefanos Tsitsipas klop John Isner met 7-6, 5-7 en 6-3

Caroline Garcia klop Jessica Pegula met 6-1 en 5-7

Aryna Sabalenka klop Shelby Rogers met 6-4, 6-7 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.