Geen keer aan vlieënde Verstappen

Die geruite vlag word gereeld vir Max Verstappen geswaai. (Foto: Attila Kisbenedek/AFP.)

Max Verstappen is deesdae in ʼn klas van sy eie agter die stuur van sy Red Bull-vuurwa. Ná agt oorwinnings op ʼn streep begin sy teenstanders ook al mor dat sy algehele F1-oorheersing nie goed vir die sport is nie.

Dit is maar bra vervelig as dieselfde renjaer elke keer met die louere wegjaag, kla hulle terwyl die geruite vlag in die verte vir Verstappen geswaai word.

Aan die anderkant van die muntstuk is daar diegene wat glo dat die Nederlander reeds een van die beste renjaers nóg is. En hy is nog nie eens 26 jaar oud nie.

“Jy kan van Verstappen in dieselfde asem as Juan Manuel Fangio, Ayrton Senna en Michael Schumacher gesels. Terwyl jy dit doen moet jy jouself ook net daaraan herinner dat hy nog bitter jonk is,” het Helmut Marko gesê.

Marko, ʼn voormalige Oostenrykse renjaer en een van Red Bull se raadgewers, meen dat die verdedigende wêreldkampioen goed genoeg is om vanjaar nog ʼn hele paar wedrenne te wen.

ʼn Sienswyse waarmee spanmaat Sergio Perez heelhartig saamstem.

“Max lewer die een topvertoning na die ander. Hy is nie net baie talentvol nie, maar hy werk baie noukeurig saam met sy span om die beste uit sy renmotor te kry. Dit is baie indrukwekkend,” het die Mexikaanse renjaer gesê.

Verstappen geniet tans ʼn voorsprong van 125 op die jaerspunteleer, terwyl Red Bull met 503 punte op die vervaardigerspunteleer spog.

Renjaers met die meeste oorwinnings:

  1. Lewis Hamilton: 103
  2. Michael Schumacher: 91
  3. Sebastian Vettel: 53
  4. Alain Prost: 51
  5. Max Verstappen: 45
  6. Ayrton Senna: 41
  7. Fernando Alonso: 32
  8. Nigel Mansell: 31
  9. Jackie Stewart: 27
  10. Jim Clark en Niki Lauda: 25
  11. Juan Manuel Fangio: 24.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dit is nou nuus. Altyd gedink dat die fenomenale Hamilton die verskil maak, selfs met ‘n trekker kan wen?

Koos 100 ·

Die selfde is gesê oor Michael Shumacher, Lewis Hamiton, Seb Vettel en al die ander veelvuldige wêreld kampioene. Hulle antwoord was, ontroon ons. Almal van hulle is ook deur regulasies “onttroon”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.