Gelukkige Lewis glip by agterdeur in

Die Britse Lewis Hamilton vier sy tweede plek by vanjaar se Formule Een-Grand Prix. (Foto: Bryn Lennon / POOL / AFP)

Wanneer die geluk aan ʼn sportman se kant is, moet hy dit met albei hande aangryp. Net soos Lewis Hamilton dit Sondagmiddag in die Emilia Romagna Formule Een-Grand Prix op Imola in Italië gedoen het.

Die Grand Prix is deur Max Verstappen (Red Bull) gewen, met Hamilton (Mercedes) tweede, Lando Norris (McLaren) derde, gevolg deur die twee Ferrari’s van Charles Leclerc en Carlos Sainz en Daniel Ricciardo (McLaren) sesde.

Dit was geen geheim nie dat daar drama op die nat baan sou wees, maar niemand kon die drama wat gevolg het, voorsien nie.

Byna halfpad deur die resies het Hamilton (Mercedes) van die baan af gery toe hy Norris wou verbysteek en teen ʼn veiligheidsmuur beland het. Hy het meer as ʼn minuut verloor, sy voorste drukvlerk was beskadig en daar was bitter min kans dat hy ʼn podiumplek sou kon losjaag.

Maar skaars ʼn rondte later is die ren gestop nadat Russell (Williams) en Valtteri Bottas (Mercedes) in ʼn ongeluk betrokke was en die rooi vlag gewaai is met wrakstukke op die baan.

Russell was briesend en het Bottas gekonfronteer, waarop Bottas sy middelvinger voor Russell gewaai het.

Die ongeluk en voorval gaan nou deur die renbeamptes ondersoek word.

Maar dit het ook beteken dat die motors in die kuipe herstel kon word.

Na ʼn lang onderbreking is die ren voortgesit. Verstappen het agter die veiligheidsmotor van die baan gery en daar was ʼn paar benoude oomblikke.

Hamilton was agtste, maar met die geluk aan sy kant, het hy by die agterdeur ingeglip en sy plek oopbaklei om tweede te eindig.

Dit was die 600ste podiumplek vir ʼn Britse jaer in Formule Een en ook die eerste keer dat twee Britse jaers (Hamilton en Norris) sedert die Chinese Grand Prix in 2012 saam op die podium kon staan.

Hamilton, wat die bonuspunt vir die vinnigste rondte ingesamel het, is nou net een punt (44) voor Verstappen (43) op die kampioenskapspuntelys, gevolg deur Norris (27), Leclerc (24), Bottas (16) en Sainz en Ricciardo (albei 14).

* Die volgende ren is die Portugese Grand Prix op 2 Mei op die Algarve-renbaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jan ·

Bottas en Norris was nie in ‘n ongeluk betrokke nie, wel Bottas en Russell. Laat nag, of wat is die rede? :-)

Megan Swart ·

Dagsê Jan
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Annakapat ·

Dink die punte is Hamilton 44 Verstappen 43 en nie 45/44 soos hierbo nie.
Volgende wedren is op 2 Mei en nie 3 Mei nie…

Megan Swart ·

Dagsê Annakapat
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Andrew ·

Om huidiglik F1 te kyk is soos om na gras te kyk hoe hulle groei.

Kosie ·

Ja hulle sal alles doen om Hamilton te help, selfs wedren stop sodat sy kar herstel kan word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.