Giniel laat wiel in die woestyn

Giniel de Villiers in sy Toyota. (Foto: X/Giniel de Villiers)

Suid-Afrika se Giniel de Villiers en Dennis Murphy het die eerste skof van die moordende Dakar-veldtydren in die derde plek afgesluit.

Die Toyota Gazoo Racing-deelnemers het net nege minute ná die uiteindelike skofwenners, Guillaume de Mévius en Xavier Panseri van Overdrive Racing, klaargemaak.

Dit was ʼn goeie dag vir die Toyota-manne: Benewens De Villiers en Murphy se sukses het die span van Lucas Moraes en Armand Monleon sesde geëindig, terwyl Guy Botterill en Brett Cummings sewende klaargemaak het.

Dit was egter ʼn moeilike dag vir Nasser Al-Attiyah.

Die verdedigende kampioen wil vanjaar vir die sesde keer in sy loopbaan met die Dakar-louere wegjaag. Maar hy het die wind van voor in sy Amerikaanse Hunter gekry.

Hy het saam met Mathieu Baumel die skof in die 21ste plek afgesluit; meer as 24 minute agter die voorlopers.

In die motorfietsafdeling het Botswana se Ross Branch die kollig gesteel.

Die 37-jarige ster, wat aan sy sesde Dakar-tydren deelneem, het vir Tosha Schareina te hulp gesnel nadat die Spaanse deelnemer geval het.

Die 25 minute wat hy gebruik het om sy teenstander te help, is van sy rentyd afgetrek en hy het die skof gewen.

Volgens Branch het hy nie twee keer gedink om vir Schareina te help nie.

“Ons moes stop en hulp verleen; dit is waarom ons hier is. As dit ek was wat op die grond gelê het, weet ek dat hy my ook sou gehelp het.”

Uitslae (eerste skof):

  1. Guillaume de Mévius en Xavier Panseri (Overdrive Racing): 04:35:59
  2. Carlos Sainz en Lucas Cruz (Team Audi Sport): 04:37:43
  3. Giniel de Villiers en Dennis Murphy (Toyota Gazoo Racing): 04:45:17
  4. Vaidotas Zala en Paulo Fiuza (X-Raid Arijus Team): 04:46:41
  5. Romain Dumas en Max Delfino (Rebellion Racing): 04:48:17
  6. Lucas Moraes en Armand Monleon (Toyota Gazoo Racing): 04:49:24
  7. Guy Botterill en Brett Cummings (Toyota Gazoo Racing): 04:49:38
  8. Yazeed Al Rajhi en Timo Gottschalk (Overdrive Racing): 04:49:38
  9. Mathieu Searradori en Loic Minaudier (Century Racing Factory Team): 04:50:11
  10. Mattias Ekstrom en Emil Bergkvist (Team Audi Sport): 04:50:19

Motorfiets-uitslae (eerste skof):

  1. Ross Branch (Hero): 04:56:01
  2. Ricky Brabec (Monster Energy): 05:06:55
  3. Mason Klein (Korr Offroad): 05:07:20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.