G’n net keer jong tenniskampioen se afslaan

Morgan Jordaan laat waai met een van haar afslane. Foto: Verskaf.

Morgan Jordaan van Laerskool Tygerpoort in Pretoria blink uit in haar skool se netbal- en sagtebalspan asook op die atletiekbaan. Maar bowenal verdien sy sonder twyfel haar superheldin-status op die tennisbaan.

Die 12-jarige Morgan is ’n paar weke gelede as die nasionale tenniskampioen in haar ouderdomsgroep aangewys nadat sy die eindstryd in dié kampioenskap in Bloemfontein met 6-3 en 6-3 gewen het.

En dit was g’n vloekskoot nie.

Sy het sommer in dieselfde toernooi met die dubbelspeltitel weggestap, terwyl sy ook so twee jaar gelede as ’n o. 10-speler die nasionale titel ingepalm het.

“Ek speel al tennis vandat ek vyf jaar oud is. My oupa, Dawie Snyman, was ’n kranige tennisspeler en dit is by hom waar ek my liefde vir die sport aangeleer het,” het sy vir Maroela Media gesê.

Nodeloos om te sê praat sy met die vrolike entoesiasme en selfversekerdheid van ’n jong mens wat haar sport en lewe geniet, maar daar is ook die nodige nederigheid te bespeur wat net deur ’n goeie opvoeding teweeg gebring word.

Foto: Verskaf.

Die entoesiasme bereik egter nuwe hoogtes toe sy oor haar held begin gesels: Roger Federer.

Sy het die Switserse tennislegende ontmoet toe hy vroeër vanjaar sy liefdadigheidswedstryd in die Kaap saam met Rafael Nadal aangebied het.

Goeiste, sy het as baljoggie gedurende die wedstryd diens gedoen, terwyl sy ook ontbyt saam met Federer, Nadal en Bill Gates geniet het.

“Ek is mal oor die manier waarop hy tennis speel en sy liefde vir die sport uitbeeld. Dit is juis my droom om ook eendag op Wimbledon te speel.”

Die talentvolle jong tennisspeler se trofeekas bars seker al uit sy nate. Sy word ook deur Wilson geborg. Foto: Verskaf.

Hoewel sy groot droom, is sy ook volwasse genoeg om te besef dat dinge nie altyd maanskyn en rose op die tennisbaan is nie.

“Ek het al baie kere gesukkel,” erken sy.

“Maar ek probeer dan net om kalm te bly, terwyl ek my bes doen om weer in die middel van die baan te speel.”

Skree sy dan soos Maria Sharapova?

“Dit hang af, ek skree eintlik net wanneer ek ’n goeie hou gespeel het,” vertel sy laggend.

Volgens Morgan is sommige van haar afslane teen 115 km/h gemeet, terwyl haar voorhandhoue een van haar grootste aanvalswapens is.

“Ek is ’n baie mededingende mens en tennis is eintlik net pleinweg lekker vir my.”

In ’n tydperk waarin talle sportondersteuners ongelukkig met nasionale spanne is, is die prestasies van skoolsterre steeds iets wat die hart warm laat klop. En ’n mens kan beslis trots op die jong Morgan Jordaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cecilia ·

Lyk na n pragtige kind. Morgan voorspoed met jou tennis loopbaan vorentoe. Gaan maak SA trots

Mieke ·

Baie geluk Morgan!!Mag jou tennis loopbaan nog baie hoogtes bereik! Mag jy net mooi dinge in die toekoms beleef!!

twaalfboor ·

GENADE MM!!! Eks nie ń ongeletterde persoon nie…… Maar magtag, ek verstaan nie die berig se opskrif nie. Al lees ek die berig hoeveel keer oor en probeer dit versoen met die opskrif.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.