Goed gedaan, Max Verstappen!

’n See van oranje ondersteuners het Max Verstappen in Nederland begroet. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Max Verstappen het in vandag se kwalifiserende rondes gesorg dat die Nederlandse vlag trots op die Zandvoort-renbaan wapper.

Die Red Bull-renjaer sal môre heel voor in sy tuis-Grand Prix wegspring nadat hy Charles Leclerc se aanslag met 0,021 sekondes afgeweer het.

Die 24-jarige Nederlander sal poog om vir die tiende keer vanjaar met die wedrenlouere weg te jaag en sodoende sy houvas op die jaerspunteleer te verstewig.

Niemand kon ook verlede naweek in België by hom kers vashou nie en hy het toe sy pad van die 14de na die eerste posisie oopgeveg.

Ferrari se Leclerc en Carlos Sainz spring môre onderskeidelik tweede en derde weg, gevolg deur Lewis Hamilton in sy Mercedes.

Die Nederlandse Grand Prix begin môre om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Wegspringrooster:
  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. Carlos Sainz (Ferrari)
  4. Lewis Hamilton (Mercedes)
  5. Sergio Perez (Red Bull)
  6. George Russell (Mercedes)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Mick Schumacher (Haas)
  9. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)
  10. Lance Stroll (Aston Martini)
  11. Pierre Gasly (AlphaTauri)
  12. Esteban Ocon (Alpine)
  13. Fernando Alonso (Alpine)
  14. Zhou Guanyu (Alfa Romeo)
  15. Alex Albon (Mercedes)
  16. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  17. Daniel Ricciardo (McLaren)
  18. Kevin Magnussen (Haas)
  19. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  20. Nicholas Latifi (Williams)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.