Grand Slam no. 20 vir Novak!

Foto: Adrian Dennis/AFP.

Daar was baie dinge wat vandag teen Novak Djokovic in die eindstryd van die Wimbledon-tennistoernooi getel het.

Die grootheid van die oomblik – ’n 20ste Grand Slam-titel was immers op die spel – was nie in sy guns nie, sy teenstander was ’n reus van amper twee meter met ’n kragtige afslaan, hy was self nie op sy beste nie, terwyl die toeskouers ook grootliks teen hom was.

Maar ná meer as drie uur het die wêreld se voorste tennisspeler vir Italië se Matteo Berrettini met  6-7, 6-4, 6-4 en 6-3 gewen om sy sesde Wimbledon-trofee omhoog te hou en sy 20ste Grand Slam-titel in te oes.

Hy het nou net soveel Grand Slam-titels as Roger Federer en Rafael Nadal agter sy naam. En op 34-jarige ouderdom kan ’n hele paar trofees nog hul pad na Djokovic se vertoonkas vind.

Foto: AELTC/Simon Bruty/AFP.

Kort nadat hy die wedstryd gewen het, het hy na sy afrigterspan gehardloop om saam met hulle fees te vier. Sy vorige afrigter, Boris Becker, is dubbel en dwars verkeerd bewys: Novak Djokovic kan onder groot druk met die louere wegstap.

“As kind het ek altyd daarvan gedroom om Wimbledon te wen. Ek onthou hoe ek as sewejarige kind in Serwië ’n replika van die beker gemaak het; en om vandag die regte trofee vas te hou is ongelooflik spesiaal,” het Djokovic gesê.

Hy het ook hulde aan Federer en Nadal gebring.

“Die 20ste Grand Slam-titel beteken heel waarskynlik dat nie een van ons binnekort sal ophou tennis speel nie. Hulle is legendes van die sportsoort en die twee belangrikste spelers teen wie ek al kragte gemeet het; hulle is ongetwyfeld die rede waarom ek vandag hier kan staan.”

Die Australiese Ope, Franse Ope en Wimbledon is reeds in die sakkie. Nou wag die Amerikaanse Ope vir die Serwiër.

In ’n tydperk waar daar baie tennishelde is, is Novak Djokovic ongetwyfeld ’n superheld. En ons is baie bevoorreg om hom te sien speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.