Gras-ieus: Rafa maak litte los

Rafael Nadal se voorbereidingswerk op grasbane vorder goed. Foto: Jaime Reina/AFP.

Rafael Nadal se Wimbledon-deelname kry al meer momentum nadat die Franse Ope-kampioen aangedui het dat hy by ’n voorbereidingstoernooi op die grasbane van die Hurlingham-klub in aksie sal wees.

Hy speel môre sy eerste wedstryd teen Switserland se Stan Wawrinka.

Die 36-jarige Spanjaard sukkel al geruime tyd met ’n voetbesering en mediese personeel was heeltyd byderhand tydens sy triomftog in Parys.

Sy voet reageer egter beter nadat hy vir behandeling in Barcelona gegaan het.

“Ek is tevrede. Ek loop nou al vir ’n week sonder enige moeite en my oefensessies lyk ook goed,” het die wenner van 22 Grand Slam-titels in ’n onderhoud met ATP gesê.

“Ek wil graag deel van die aksie op Wimbledon wees en vandeesweek se vordering sê vir my dat daar ’n kans is.”

Organiseerders van die toernooi het ook gister ’n kort video van Nadal op sosiale media gedeel waar hy met die een warrelwindhou na die ander op ’n grasoefenbaan lostrek.

Hy het laas in 2019 op Wimbledon gespeel toe hy in die halfeindstryd teen Roger Federer verloor het.

“Dit is drie jaar sedert ek laas op ’n grasbaan gespeel het en ’n mens moet geduldig wees. My voet toon vordering en daar is ’n week se voorbereidingswerk in Londen oor voordat die toernooi begin. Ek moet die tyd doeltreffend gebruik.”

Intussen het Naomi Osaka aangedui dat sy nie op Wimbledon sal afslaan nie.

Volgens die Japanse speler het sy nog nie voldoende van ’n achilleshiel-besering herstel nie. Sy het ook vroeër aangedui dat sy nog oor haar deelname wik en weeg nadat die ATP- en WTA-beheerliggame besluit het om dié ikoniese grasbaan-toernooi van sy status te ontneem.

“As ’n mens nie punte by Wimbledon verdien nie, is dit meer soos ’n vertoontoernooi. Ek het nog nie ’n finale besluit geneem nie, maar soos wat dinge tans lyk, is die kans goed dat ek nie sal speel nie,” het Osaka destyds gesê.

Sy het egter nou op Twitter aangedui dat haar besering die rede vir haar afwesigheid is.

“My achilles is steeds nie reg nie, dus sien ek julle ’n volgende keer,” het die 24-jarige speler geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.