Groot Wêreldbeker-toets wag op Proteas

Die Proteas speel Woensdag teen Nieu-Seeland. (Foto: Twitter/Netball SA)

Die Proteas speel Woensdag teen die verdedigende Wêreldbeker-kampioenspan, Nieu-Seeland, in ʼn belangrike Groep G-wedstryd in Kaapstad.

Die Suid-Afrikaners het Maandagaand weer op die wenpad gekom nadat hulle op ʼn drafstap met Trinidad en Tobago afgereken het. Tog beloof die kragmeting teen die Kiwi’s om die span se taaiste toets nóg in die Wêreldbeker-toernooi te wees.

Nieu-Seeland is tot dusver onoorwonne en die Silwer Varings het reeds 293 doele in vier wedstryde aangeteken.

Daarbenewens het hulle ook in Januarie gewys dat hulle maklik met die Proteas in Suid-Afrika kan afreken; soos wat hul oorwinning van 61 – 41 in die vierhoekige reeks getuig.

Die Proteas speel nie vandag ʼn wedstryd nie, maar hulle gaan hoegenaamd nie op hul louere rus nie.

“Ons gaan video-analise doen en vir ons tweestryd met Nieu-Seeland voorberei – ons is deeglik bewus van die feit dat dit ʼn baie belangrike wedstryd vir ons is,” het Karla Pretorius gesê.

Pretorius en Phumza Maweni sal op hul beste moet verdedig: Maia Wilson sink 93% van haar doele.

Daarteenoor vaar Ine-Marí Venter die beste onder die Suid-Afrikaners in die doelsirkel. Sy is in die kol met 91 van haar 106 doelpogings (86%).

Die Proteas sal vir die oorblywende wedstryde ook sonder die dienste van die ervare Lenize Potgieter moet klaarkom. Die talentvolle doelspeler sukkel met ʼn kniebesering en Owethu Ngubane sal haar skoene moet volstaan.

Volgens Dumisane Chauke was die oorwinning teen Trinidad en Tobago ʼn tree in die regte rigting.

“Ons was nou beter voorbereid en ons moes goed doen om ons selfvertroue weer ʼn hupstoot te gee. Dit was ʼn baie belangrike sege vir ons,” het die Protea-hulpafrigter gesê.

Suid-Afrika speel Woensdag om 18:00 teen Nieu-Seeland.

Suid-Afrika se Wêreldbeker-uitslae:

61 – 50 teen Wallis

87 – 32 teen Sri Lanka

49 – 67 teen Jamaika

69 – 28 teen Trinidad en Tobago

Nieu-Seeland se Wêreldbeker-uitslae:

76 – 27 teen Trinidad en Tobago

54 – 44 teen Uganda

80 – 19 teen Singapoer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

So Woensdag se wedstryd bepaal eintlik die semi-finaliste. Sal wees NZ en Jamaika van ons groep en Aus en Engeland in die ander groep. Die voorste 4 spanne in die wereld in elk geval. Geen verrassings nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.