Haas en Mick se paadjies skei

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Dit is amptelik. Nico Hülkenberg sal volgende jaar agter die stuur van ʼn Haas-renmotor klim nadat die Amerikaanse F1-span en Mick Schumacher se paadjies geskei het.

Guenther Steiner, Haas-spanbaas, is natuurlik baie in sy noppies om die 35-jarige Duitser voltyds in F1-kringe terug te verwelkom.

“Nico se ervaring en kennis is van onskatbare waarde en hy het ʼn reputasie as betroubare renjaer. Hy kan ʼn gedugte kombinasie met Kevin Magnussen vorm; een wat vir ons ʼn definitiewe hupstoot sal gee.”

Die Haas-baas het al vantevore oor Schumacher gekla.

“Ek dink Mick beskik oor baie potensiaal, maar hy kos ons ʼn fortuin. Hy het al ʼn paar renmotors afgeskryf en ons moet geld uithaal wat ons nie het nie. Nou, as jou naam Max Verstappen is en jy verdien gereeld punte vir jou span, kan ons nog ʼn ongeluk of twee hanteer. Maar as jy agter in die ry staan en motors afskryf, dan begin dinge moeilik raak.”

Die jong Schumacher, seun van die Ferrari-legende Michael, is tans 16de op die jaerspunteleer met sy 12 punte, maar hy het sy potensiaal met goeie vertonings in Silverstone en Oostenryk onderstreep.

“Abu Dhabi sal my laaste wedren saam met Haas wees en ek wil nie doekies omdraai nie: Ek is baie teleurgesteld oor die besluit om nie ons kontrak te hernieu nie,” het Schumacher op sosiale media gesê.

Nietemin het hy die span vir die geleentheid bedank.

“Dit was nie altyd ʼn maklike pad nie, maar ek het verbeter en baie geleer. Ek weet dat ek beslis my plek op die F1-rooster verdien.”

.Foto: Twitter.

Ralf Schumacher meen egter dat sy broerskind stief behandel is en hy het na Steiner gekap.

“Mick het gereeld in sy vennootskap met Haas bewys dat hy oor die nodige potensiaal beskik, maar dit het eintlik saak gemaak wat hy doen nie; die span en Guenther Steiner was net nooit tevrede nie,” het die voormalige renjaer gesê.

“Ek het nie ʼn verduideliking gereed vir hierdie gedrag nie – dit moet iets persoonliks wees. Ek glo dat iemand soos Steiner niks daarvan hou dat iemand anders meer in die kollig as hy is nie. Hy is immers op sy gelukkigste wanneer hy die middelpunt van ʼn gesprek is.”

Tog beskou die 23-jarige renjaer hoegenaamd nie die terugslag as die einde van sy motorsportdroom nie.

“Die vuur vir Formule Een brand helder in my en ek sal baklei om my pad terug na die wegspringrooster te vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alta Alleman ·

Hy moes in die eerste plek nie vir Haas gaan ry nie. Haas is n gevaar op die pad.

Fran ·

Guenther Steiner is ‘n swak direkteur! Hy neuk al die potensiaal uit drywers uit met sy toksiese manier van beheer en vloek. Haas se karre is ook nie baie goed nie.

Jacques Dawie ·

As jy terug kyk, kyk hoe het HAAS se karre gesukkel, engine, brieke etc. Maar om Mike as n ‘escape goat’ te gebruik vir swak span bestuur is n skande en pateties. Steiner se taal gebruik, agteraf aanmerkings en geen verantwoordeliheid vat vir niks karakter sal hom inhaal. HAAS se borgskap het gegroei, so hul sal generies beter lyk in toekoms….Ek is van harte hoop dat n ander span Mike se waarde sien, en hom n kaans sal gee..

Koos 100 ·

Mercedes, is die tyd nie nou reg om nog ‘n reserwe by julle te kry nie? Sy Pa het gehelp om julle span as ‘n wen span te vestig en hy is ‘n Duitser. Ek dink hy sal goed inpas!

piet ·

En vir Benetton en vir Jordan maar hy was lank by Ferrari waar hy naam gemaak het en Ferrari amper onoorwinlik gemaak het. Was nie juis suksesvol by Mercedes nie, sy loopbaan was toe al basies daarmee heen.

Koos 100 ·

Piet. Mercedes was ‘n nuwe span en het hom gekry om te help met die ontwikkeling van die span. Jy is reg, sukses het hy nie daar gesmaak om te wen nie, maar Mercedes se sukses die afgelope jare moet ook aan hom toe geskryf word.

SomeOne ·

Mick, voorstel, moet nie aan die laaste rem deelneem nie, enige ander jaer in jou omtrek gaan maak dat jy ‘n ongeluk maak en dan is haas baas nog verder die duiwel in vir jou en dalk dra jy die skuld vir daardie ongeluk ook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.