Hamilton wen sy 100ste wedren

Lewis Hamilton het al ’n verstommende 100 Grand Prix-wedrenne gewen. Foto: Yuri Kochetkov/AFP.

Soms werk ’n dobbelspel; ander kere nie. Dít is die waardevolle les wat die jong Lando Norris vandag in Rusland geleer het.

Reën sorg telkemale vir drama op ’n F1-renbaan en vandag was geen uitsondering nie.

Dit het in die 46ste ronde van die Russiese Grand Prix begin reën en ’n onervare Norris – wat toe in die eerste plek was – het besluit om nie die kuipe te besoek nie.

Lewis Hamilton was kort op sy hakke en die McLaren-renjaer het waarskynlik gedink dat hy die verdedigende wêreldkampioen se aanslag sou kon afweer – die einde was immers in sig.

Maar net ’n kort rukkie later het Norris die stryd teen die reënweer verloor, terwyl Hamilton (wat intussen die kuipe besoek het) se nuwer bande die nat toestande makliker kon tem. Hy het dus verbygeblits om die wedren te wen.

Dit was die 100ste sege van sy F1-loopbaan, terwyl die geruite vlag ook vir die vyfde keer in Rusland vir hom geswaai is.

“Ek moes hard hiervoor werk en dit het ’n ruk geneem om my 100ste wedren te wen,” het Hamilton gesê terwyl hy ook sy span vir hul taktiese bydrae bedank het.

Maar waar die vreugdevure in die Mercedes-kamp gebrand het, het Norris aanspreeklikheid vir die taktiese blaps aanvaar.

“Dit was my besluit om nie die kuipe te besoek nie; ek het gedink dit sal die beste pad vorentoe wees. Ek glo dat ek alles gedoen het wat ek kon – selfs toe dit moeilik geword het om die motor op die baan te hou,” het die McLaren-renjaer gesê.

“Ek is tevrede met alles, buiten daardie een besluit. Ons sal dit bespreek en hopelik nie dieselfde fout weer maak nie.”

Max Verstappen het tweede geëindig nadat hy 20ste op die wegspringrooster was omdat sy brullende Red Bull-renmotor met ’n splinternuwe enjin toegerus was.

“Ons wou so min moontlik punte afstaan en dit voel nou vir ons asof ons eintlik gewen het. Om van die 20ste na die tweede plek te vorder is ’n groot prestasie,” het Christian Horner (Red Bull-spanbaas) gesê.

Uitslae:

  1. Lewis Hamilton (Mercedes)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. Carlos Sainz (Ferrari)
  4. Daniel Ricciardo (McLaren)
  5. Valtteri Bottas (Mercedes)
  6. Fernando Alonso (Alpine)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Kimi Räikkönen (Alfa Romeo)
  9. Sergio Perez (Red Bull)
  10. George Russell (Williams)

Jaerspunteleer:

  1. Lewis Hamilton 246,5 punte
  2. Max Verstappen 244,5 punte
  3. Valtteri Bottas 151 punte
  4. Lando Norris 139 punte
  5. Sergio Perez 120 punte
  6. Carlos Sainz 112,5 punte
  7. Charles Leclerc 104 punte
  8. Daniel Ricciardo 95 punte
  9. Pierre Gasly 66 punte
  10. Fernando Alonso 58 punte

Vervaardigerskampioenskap:

  1. Mercedes 397,5 punte
  2. Red Bull 364,5 punte
  3. McLaren 234 punte
  4. Ferrari 216,5 punte
  5. Renault 103 punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.