Japanse karate-beampte in die sop

Ayumi Uekusa (bo) deel ’n paar houe uit. Foto: Roslan Rahman/AFP.

Kyk, as jy in Japan ’n voet in die sportwêreld verkeerd sit, dan is die gort behoorlik gaar.

Yoshiro Mori, president van Tokio se Olimpiese organiseringskomitee, het byvoorbeeld vroeër bedank nadat hy beweer het dat vroue te veel in vergaderings praat. Nou is ’n karate-beampte ook in die sop nadat boeliebewerings teen hom gemaak is.

Volgens AFP het Masao Kagawa, tegniese direkteur van die Japanse karate-vereniging, aan ’n plaaslike koerant gesê dat hy uit sy pos gaan bedank nadat hy Ayumi Uekusa tydens ’n oefensessie beseer het.

Uekusa, ’n voormalige wêreldkampioen, het aangevoer dat Kagawa haar geboelie het en haar onder meer met ’n bamboesswaard in die gesig geslaan het.

Die karateka sal haar Olimpiese buiging vanjaar in Tokio maak en sy het ’n klag teen haar instrukteur gelê.

Hulle het al twee verlede week voor ’n etiese komitee verskyn, waar ’n blou en opgeswelde oog van Kagawa se “gevaarlike” oefenmetodes getuig het.

Hoewel die komitee nog ’n geskikte straf vir die beampte moet uitdink, het hy reeds aangedui dat hy van plan is om te bedank.

“Ek aanvaar volle aanspreeklikheid en in ’n poging om die saak te bespoedig, is ek bereid om as tegniese direkteur en raadslid te bedank,” het Kagawa aan die plaaslike media gesê.

Hy het verder erken dat hy sy bamboesswaard dalk te geesdriftig gedurende oefensessies rondgeswaai het, maar dit was alles in ’n poging om sy student ratser en vinniger te maak.

Daarteenoor het Uekusa gesê dat Kagawa skade aan haar selfbeeld berokken het en dat sy soms te gespanne was om oefensessies by te woon.

“Dit het naderhand so moeilik geword, dat ek skoon in trane uitgebars het wanneer ek op pad was om te oefen. Baie kere het ek verkies om tuis te bly,” Uekusa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

‘n Hooggeplaaste wat bedank om die ondersoekproses te bespoedig?! Ons kan maar net bly hoop vir so iets om hier te gebeur… Boshido is duidelik ‘n baie beter ingesteldheid as ubuntu.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.