Kaylene en Tatjana: Vuur in die water

Kaylene Corbett het ’n spoggerige vertoning in die swembad gelewer. Foto: Jonathan Nackstrand/AFP.

Kaylene Corbett het vandag – op die grootste verhoog in wêreldsport – met die beste 200 m-borsslagpoging van haar loopbaan vorendag gekom.

Haar spogtyd van 2:22.08 beteken dat sy môre saam met die briljante Tatjana Schoenmaker (wat weer eens vir die vinnigste kwalifiserende tyd verantwoordelik was) in die eindronde sal swem.

“Ek is in die wolke, want kan jy vir enigiets meer vra? As jy vir my in 2016 gesê het dat ek in die eindronde van die Olimpiese Spele sal swem, sou ek toe al gesukkel het om die trane te keer,” het Corbett gesê.

Schoenmaker was ook baie trots op haar spanmaat se prestasie. Die twee ken mekaar baie goed en is deel van Rocco Meiring se gedugte span by Tukkies.

“Toe ek vir Kaylene sien, was die grootste glimlag ooit op haar gesig,” het ’n opgewonde Schoenmaker gesê.

Ten spyte van haar droomlopie by die Spele, behoort Corbett se voete vierkantig op die grond bly. Die 22-jarige swemmer het al vantevore vir Maroela Media gesê dat haar godsdiens en familie die boustene van haar lewe is.

Kaylene Corbett en Tatjana Schoenmaker. Foto: Reg Caldecott.

“My geloof het my gedra deur tye waar ek self nie gedink het ek sal deurkom nie, terwyl my ouers en familie daar vir my was toe ek net die droom gehad het. Glo my, my familie se knieë is al deurgebid.

“Ek wil graag hê dat mense my moet onthou as die meisie wat nooit tou opgegooi het nie en wat te danke aan God se genade haar droom kon uitleef.”

En dit is ooglopend dat sy tans haar beste by die Spele gee – sy het immers vandag swembadwater in die oë van die ervare Lilly King geskop.

Dan is dit die eerste keer sedert Penny Heyns en Sarah Poewe se heldedade by die Sydney-skouspel in 2000 dat Suid-Afrika met twee vroue in die eindronde van ’n Olimpiese swemitem spog.

Hoewel Corbett dalk nog ’n sekonde of twee vinniger sal moet swem om ’n plek op die podium te verseker, is Schoenmaker ongetwyfeld die gunsteling om met die louere weg te swem.

Tatjana Schoenmaker klief deur die water. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

Tog is daar geen sekerheid in sport – kyk net wat in die eindronde van die 100 m-borsslagitem gebeur het – en Meiring meen dat sy sterswemmer nie sal kan bekostig om agteroor te sit en kyk wat gebeur nie.

“In ’n eindronde moet jy nie net dink aan wat die ander swemmers gaan doen nie, maar ook aan die verskillende scenario’s wat moontlik kan afspeel. Ek glo dat Tatjana haar eie ding gaan doen en dit is belangrik dat sy goed geposisioneer is ná 150 m; daarna sal sy moet swem soos nooit vantevore nie,” het Meiring gesê.

Die aksie begin môre om 03:41 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

BARNEY ·

Dit is so lekker om te sien, ek het groot waardering vir die feit dat sy die Here die eer gee. Sterkte vir julle twee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.