Kent en Tiffany laat speke sing in Kaapstad

Oudergewoonte het die Kaapstad-fietstoer vir hope aksie gesorg. Hier sê Tiffany Keep en kie mekaar die stryd aan. (Foto: X/Kaapstad-fietstoer)

“Dit was ʼn hoendervleis-oomblik,” het Kent Main gesê nadat hy vandag die 46ste weergawe van die Kaapstad-fietstoer met sy tyd van 2:31:21 gewen het.

Die 28-jarige Johannesburg-boorling het in die pylvak van die wedren weggebreek van ʼn groep fietsryers en na die wenstreep laat waai. Eers met die eindpunt ʼn paar honderd meter weg kon hy ontspan en sy oorwinning begin vier.

“Dit was ʼn ongelooflike wedren. Dit was baie harde werk van die begin tot die einde, maar ek dink dinge het mooi vir ons uitgewerk. Dit is fantasties om met die louere weg te jaag.”

Daar was ʼn lekker tweestryd om die laaste plekke op die podium met die Britse bergfietsryer Charlie Aldridge wat voor Alan Hatherly klaargemaak het.

In Kim le Court de Billot se afwesigheid – die verdedigende kampioen neem aan ʼn wedren in Nederland deel – het Tiffany Keep die vrouewedren gewen.

Sy het die wedren met haar tyd van 2:12:01 beklink nadat sy ook haar blitstrapvaardighede moes uitstal om oor die wenstreep te jaag.

“Sjoe, ons het op ʼn stadium nie geweet wie gewen het nie. Dit was super, super naby. Ek moes baie hard in die pylvak werk om vir S’annara [Grove] in te haal. Ja-nee, ek is baie tevrede met my vertoning,” het Keep gesê.

  • Uitslae:

Mans:

  1. Kent Main: 2:31:21
  2. Charlie Aldridge
  3. Alan Hatherly
  4. Jaco Venter

Vroue:

  1. Tiffany Keep: 2:12:01
  2. S’annara Grove
  3. Vera Looser
  4. Carla Oberholzer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OneWheel ·

Dis jammer dat unieke deelnemers aan die CTCT nie as nuuswaardig beskou word nie.
Hierdie jaar het 2 ryers op eenwielfietse (Unicycles) deelgeneem en die wedren voltooi: Ethan Simpson (14 jaar – die jongste persoon om ooit die wedren te voltooi op ‘n unicycle ) met ‘n tyd van 07:37 en Jason Fivaz 30 sekondes na hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.