Kopsere en klubdoele in Ronaldo-kollig

Deur Riaan Hofmeyr

Cristiano Ronaldo in aksie vir Manchester United. Foto: Jose Hernandez/Anadolu Agency via AFP.

Cristiano Ronaldo, die Portugese sokkersuperster, oorheers weer die hoofopskrifte om goeie én slegte redes.

Manchester United het hom onlangs vir ’n week geskors nadat hy in ’n wedstryd teen Tottenham Hotspur geweier het om as plaasvervanger op die veld te draf. Hy het ook die stadion verlaat voordat speeltyd verstreke was en sy optrede word as ’n gebrek aan respek jeens die span en sy spanmaats beskou.

Hy stamp nou al geruime tyd koppe met die Rooi Duiwels se nuwe afrigter, Erik ten Hag, sedert hy aan die begin van die seisoen as breier aangestel is.

Die uitbarsting volg kort op die hakke van ’n nuwe hoogtepunt nadat hy vroeër vandeesmaand sy 700ste klubdoel aangeteken het. Hy het die mylpaal in Manchester se oorwinning van 2-1 teen Everton bereik.

Ronaldo se loopbaan het in die 2002/’03-seisoen by Sporting CP in Portugal begin waar hy ’n skamele vyf doele aangeteken het.  In 2003 is hy na Manchester United waar sy lig helder begin skyn het en hy het in ses jaar 118 keer die agterkant van die doelhok gevind.

Sy loopbaandroom is in 2009 bewaarheid toe hy die skuif na Real Madrid in Spanje gemaak het; die span wat hy as kind bewonder het. Hy het hulle £80 miljoen uit die sak gejaag, maar hy was elke sent werd – in sy tyd daar het hy 450 doele aangeteken en terselfdertyd ’n rits toekennings en titels ingeoes.

In 2018 is hy na Juventus in Italië waar hy in drie jaar 101 doele aangeteken het. Hy het verlede jaar sy terugkeer na Manchester United gemaak en hy is reeds vir 26 van die span se doele verantwoordelik.

Benewens Ronaldo se 700 klubdoele is hy ook eerste op Portugal se internasionale doelskieterlys; hy het reeds 117 doele vir sy land aangeteken.

Op 37-jarige ouderdom, waar die meeste sokkerspelers al hul stewels opgehang het, veg hy nog hard om nuwe hoogtes te bereik. Slegs die verloop van tyd sal egter bepaal hoe sy pad vorentoe lyk, aangesien gerugte nou weer die ronde doen dat hy Manchester United in Januarie gaan verlaat omdat hy nie met Ten Hag oor die weg kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.